u2019n Veilige jaar vir internasionale lugvaart - 2015
u2019n Veilige jaar vir internasionale lugvaart - 2015

’n Veilige jaar vir internasionale lugvaart - 2015

Francoise Steynberg
Ronelle Rademeyer in Dublin - Die Internasionale Lugvaartvereniging (Iata) se veiligheidstatistiek vir 2015 wys die globale ongelukskoers was 0,32, wat beteken net een dodelike ongeluk het plaasgevind vir elke 3,1 miljoen vlugte wat onderneem is.
In totaal het verlede jaar net vier vliegrampe (slegs turboskroef-vliegtuie, geen stralers) voorgekom waarin 136 mense gesterf het. In 2014 het 641 passasiers en bemanningslede in vliegrampe omgekom terwyl die vyf­jaar-gemiddeld 504 sterftes beloop.
Dit beteken meer as 3,5 miljard mense het veilig op 37,6 miljoen vlugte gevlieg. Hiervan was 31,4 miljoen in stralervliegtuie en 6,2 miljoen in turboskroef-vliegtuie.
Ofskoon die koers vir 2014 van 0,27 effe laer was as dié van verlede jaar, wys die statistiek 2015 se syfer is steeds ’n 30% verbetering op die vorige vyfjaar-koers (2010-2014) van 0,46 groot ­ongelukke vir elke miljoen vlugte.
Mnr. Tony Tyler, Iata se direkteur-generaal en hoof uitvoerende beampte, het vroeër gesê gemeet aan die getal dodelike ongelukke, was 2015 ’n buitengewoon veilige jaar.
“Tog was dit ’n jaar van kontraste wat ­lugvaartveiligheid betref, want hoewel die langtermyndata wys dit word al veiliger om te vlieg, is die wêreld deur twee skokkende voorvalle geruk.”
Hy sê beide die Germanwings Vlug 9525- en ­Metrojet Vlug 9268-vliegramp is deur bewuste dade van verwoesting veroorsaak. Hoewel geen maklike oplossing vir kwessies soos die geestegesondheid van vlieëniers en terreur bestaan nie, probeer die lugvaartbedryf voortdurend om hierdie risiko’s te verminder.
Op 24 Maart verlede jaar het Andreas Lubitz, die medevlieënier op die Germanwings-vlug, die Airbus 320 met 149 ander mense aan boord doelbewus in die Franse Alpe laat neerstort. Hy het glo aan depressie gely.
Die Russiese vliegtuig op Metrojet Vlug 9268 is op 31 Oktober verlede jaar deur die Islamitiese Staat (IS) oor Egipte afgeskiet.
Al 217 passasiers en sewe bemanningslede het gesterf.
Volgens Tyler is dié twee vliegrampe nie by die statistiek van 2015 ingereken nie, aangesien dit as “doelbewuste dade van onwettige ingryping” geklassifiseer word.
Iata se 72ste algemene jaarvergadering asook die Wêreldlugvaartberaad het gister in Dublin, Ierland, begin en duur tot môre.

Kommentaar

Republikein 2025-06-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer