’n Sprokie vir grootmense
BEATRICE SPIES SKRYF:
Met dank aan Shaleen.
Lank, lank gelede, was daar eendag ’n prinses. Sy was die mooiste, slimste, rykste en gewildste mens op aarde. Haar naam was Kisagotami.
Haar onderdane het haar bewonder en aanbid, want sy was nederig, vrygewig, meelewend en altyd hulpvaardig. Niemand in haar land het ooit gebrek aan enigiets gehad nie.
Maar tenspyte van al haar roem en rykdom, was sy nogtans ’n diep ongelukkige mens, want sy het naamlik nie kinders gehad nie.
Een maal elke jaar het sy na die Godin van Vrugbaarheid gegaan en gepleit vir ’n kind, maar die dekades het gekom en gegaan en sy het kinderloos gebly.
En toe sy vyf en tagtig jaar oud was, o! hemelse wonderwerk, raak sy uit die bloute swanger en ’n seuntjie word vir haar gebore. Hy was die mooiste, soetste, dierbaarste ou kindjie op aarde. En Kisagotami se geluk was meteens volmaak.
Maar toe die seuntjie vyf jaar oud was, het hy siek geword en gesterf.
Kisagotami gaan toe na die Godin van Lewe en Dood en sê vir haar: “Liewe Godin, ek sal alles wat ek besit prysgee. Ek sal ’n swerwer en ’n bedelaar word, as jy net weer my kind vir my sal teruggee.”
“Goed,” sê die Godin van Lewe en Dood: “Neem nou hierdie koringkorrel. Dan gaan jy van huis tot huis, deur tot deur, mens tot mens. Vir elke mens wat jy teekom, vra jy hierdie een vraag: 'Was jy al ooit in jou lewe baie hartseer oor iets wat met jou gebeur het?' En die eerste een wat vir jou sal sê: 'Nee, ek was nog nooit in my hele lewe lank hartseer oor enigiets nie,' vir daardie mens gee jy die koringkorrel en ek sal jou kind vir jou teruggee.”
Ag, dink Kisogatami, hoe maklik kan dit nou wees! Binne ’n jaar het ek weer my kind terug.
En so begin haar reis, eers net deur haar eie land: van huis tot huis, deur tot deur, mens tot mens, een vraag.
Later deur ander lande: van huis tot huis, deur tot deur, mens tot mens, een vraag. Uiteindelik was sy oor die hele wêreld heen: van huis tot huis, deur tot deur, mens tot mens, een vraag.
Kisagotami was duisend jaar oud toe sy dood is. En toe die howelinge haar liggaam begin voorberei om gebalsem te word, vind hulle in haar regterhand ’n koringkorrel.
Geseënde Kersfees en ’n voorspoedige Nuwejaar vir almal. Of jy tuis bly, of waarheen jy ookal mag gaan gedurende die feestyd, wees waaksaam, ry versigtig en kom weer veilig tuis. ’n Menselewe is immers meer werd as ’n koringkorrel. Of hoe?

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie