’n Ope brief aan die pandemie
Beste Covid-19
Ek sou jou baie graag wou bel. Vir ’n lang oproep.
Of nee, wag, ek sou eerder langbeen met ’n beker stomende koppie koffie voor jou wou sit, in jou oë wou kyk en hoor wat jou storie is.
Ja, natuurlik sou ek ’n drielaagmasker dra en minstens twee meter weg van jou sit mits ek my bene mag kruis.
Indien ’n proes- of niesbui my tydens dié gesprek sou oorval, belowe ek om te onthou om nie te vergeet om respiratoriese higiëne toe te pas.
Maar nou het ek nie jou nommer en/of woonadres nie en moet my maar tot dié ope brief wend.
Ek hoop dit bereik jou.
Ek hoop ook jy verstaan Afrikaans. Indien nie, laat my asseblief weet sodat ek ’n tolk kan reël.
Ek hoop nie jou vel is dun nie. Ek glo darem nie – jy saai met soveel selfvertroue wydsbeen amok oraloor dat ek reken jy sal darem ’n ongemaklike gesprek kan oorleef.
Dalk miskien selfs verwelkom. Of hoe?
Waar sal ek begin? Om by die begin te begin, is seker nie ’n slegte idee nie. So, as jy weet, vertel asseblief vir my hoekom het/is jý begin? Wat soek jy hier en wie het jou gestuur?
Verstaan my mooi. Baie mooi. Hoewel elkeen van ons seker minstens ’n klein bietjie samesweringsteorieë met moeders- of poeiermelk inkry, beskou ek my amptelik nie as ’n samesweringsteoretikus nie.
Ek is dus nie noodwending oortuig dat jy met opset êrens in ’n oosterse laboratorium gebou is om ons met ’n loopneus in ons moer te stuur nie.
Ek is eweneens nie van mening (die Namibiese) selfoonreuse het in die geheim, diep in die nanag 5G-torings opgerig wie se strale asemnood en dood teweeg bring nie. Trouens, wat óns amptelike syfers betref, kon jy nog nie daarin slaag om enigiemand hier hemel toe te kom haal of hel toe te stuur nie.
En ek dink dis wat jy ook in gedagte moet hou, liefste Covid-19: Namibiërs skrik nie maklik vir enige weergawe van koelerige pampoen nie. Ons is meestal gebou om te hou.
Laat my toe om myself in die rede te val en krediet te gee daar waar dit toepaslik is.
Jou onwelkome kuier hét sy voordele gehad.
Eerstens dink ek almal van ons het nodig gehad om uit ons sluimerende, traak-my-nie-agtige houding wakker geskud te word.
Ons het veels té veel voorregte as vanselfsprekend begin aanvaar – van drukkies tot kuiers tot verhoudings en vriendskappe en, ja, selfs ons werke. Ons het veral ons fisieke gesondheid en die impak daarvan op ons holistiese welstand nie na waarde geag nie. Om nie eens te praat van soene nie!
Jy het jou oortref wat die spreekwoordelike, gesamentlike snotklap betref. Baie dankie daarvoor.
Jy het ook verskeie ongeregtighede, erge ongelykhede, talle ongerymdhede en allerlei ontlasting wat onder die oppervlak geprut het aan die kaak gestel. Daarvoor is ek ook dankbaar. Innig en opreg.
Jy het ons ook geleer ons is nooit té oud om te leer nie.
Ek dink nou spesifiek aan jou lesings oor hoe om op die oudag ordentlik ’n mens se hande te was, hoe om persoonlike ruimte van ’n ander te respekteer en om tuis en uit die kwaad te bly óf op die vlug te slaan as tuis geen veilige hawe is nie.
Maar ek dink ons het almal genoeg gehad van jou kuier.
Diegene wat steeds die lewe in sy geheel as vanselfsprekend aanvaar en steeds ’n veer voel vir hulleself, hul medemens en die planet mag saam met jou vertrek.
Totsiens, Covid-19
Groete
Denver Kisting

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie