u2019n Oomblik van vrede
u2019n Oomblik van vrede

’n Oomblik van vrede

Augetto Graig
Stop. Bring jouself terug. Haal diep asem; in deur die neus en uit deur die mond. Raak stil. Tel tot tien, een asem op ’n slag. Sien jy nou? Daar is dit. ’n Oomblik van vrede. Dit is daar en dit is bereikbaar. Dit is binne jou. Vind jou vrede.

Die wêreld is net ’n gejaag. Die lewe laat nie op hom wag nie en hierdie lyf kan nie lank stilsit nie. Mense roep gedurig om jou aandag te kry. Geraas en steurings, geweld en frustrasie, gerasperde senuwees en geduld wat getoets word. Dit is als deel van menswees.

Daar is tog ook glimlaggies, drukkies en lekkernye soos koek en tee. Goeie geselskap en die liefde van jou medemens is ook deel van jou ervaring. Soms sien ons nie hoe mooi die plantjies blom nie, of voel nie hoe sag streel die windjie mens se gesig in die oggendure nie.

Dit is te maklik om verlore te raak in die geraas van die moderne samelewing. Ons luister na die snert op die nuus en hoor hoe die wêreld vergaan. Die ellende om ons is genoeg om jou te laat verstik; maar daar is wel stilte en dit is bereikbaar.

Hou net op. Draai terug. Kyk na binne en begin daar.

Maak seker jy ken jouself. Leer ken wie jý is; bou ’n duidelike prentjie van wie jy wil wees. Jou selfbeeld is van uiterste belang. Wees eerlik met jouself. As daar fout is, kan jy dit net regstel as jy dit besef. Los die redes en die skuldiges – die vingerwys en die oordeel. Dit is nie belangrik nie. Nog erger, dit is ’n lokval omdat dit weer eens jou aandag na buite lok.

Die antwoord lê binne. Soek dit daar.

Met daardie kennis kom jy dan terug na jou werklikheid en takel jou omstandighede met nuwe krag. Die eerste voordeel van hierdie benadering is om alles weer in perspektief te plaas. Die draaie van die lewe is maar wandelinge en ompaaie wat steeds reguit na die eindpunt lei. Die angs wat jou beetkry is lugspieëlings; die groot vrees is ’n klug.

Niks is so erg dat jy dit nie kan oorbrug nie. Daar is geen rede om jouself te blameer nie, of om jou lewe te haat nie. Alles wat jy kortkom, is op die ou einde onnodig en eintlik belaglik. Wat die moeite werd is, het jy reeds.

Stop. Bring jouself terug. Haal diep asem.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer