'n Ode aan sy woestynland

Rolprentdebuut vir plaaslike ­produksiemaatskappy

25 February 2021 | Kuns en vermaak
Bosman Films is in 2020 deur die 22-jarige Namibiese filmmaker, Ben (Benna) van der Walt, gestig.

Hy is 'n student aan die Kanbar Instituut vir Film en Televisie van die New York Universiteit (NYU) se prestige Tisch Skool vir Kunste.

Van der Walt, wat ook die skrywer en regisseur van Woestynpsalm is, moes in Maart 2020 na Namibië terugkeer, net voordat die Verenigde State van Amerika (VSA) se grense weens Covid-19 gesluit is.

Hy sal waarskynlik eers in September 2021 of later na New York kan terugkeer om sy studies voort te sit. Covid-19 kon egter nie sy passie vir die rolprentbedryf stuit nie en tydens die inperking het hy saam met sy gesin in Windhoek aan die konsep vir sy heel eerste vollengte fliek begin werk.

Met sy aankoms in die VSA het hy besef baie mense het 'n vae idee oor Namibië, of dat hulle nie eens weet Namibië bestaan nie, of enige verbintenis mee het nie.

Tydens sy televisie- en filmstudies het dié onbekende vreemd genoeg vir hom 'n voorsprong gegee. Die vermoë om iets geheel en al vanuit sy oogpunt te skep, oor 'n plek wat hy so goed ken.

Dit het hom kreatiewe beheer gegee om 'n boeiende, treffende visuele indruk te skep. Om iets uit niks te bou, sonder enige verwagting, idee, indruk of stereotipe.

“Woestynpsalm bring hulde aan my gesin en ons mooi land, Namibië. Dit is losweg op 'n ware verhaal gebaseer en handel oor die fisieke en emosionele uitdagings om iets in 'n woestyn – waarvoor jy lief is – aan die lewe te probeer hou,” sê hy.

Die intrige handel oor die vrou in die woestyn – Nadia, 'n jong Protestantse dominee wat elke naweek ver afstande deur die Namibiese woestyne aflê om vir 'n sterwende gemeente te gaan preek. Haar verhaal speel in 'n onbepaalde tydperk af – iewers tussen die 1980's en die hede – waartydens sy onder toenemende druk van buurkerke en haar familie geplaas word om haar lewenspad as vrouedominee te heroorweeg.

Gevolglik word sy gedwing om tradisionele en moderne sienings van geloof, geloofsleier­skap en die “aanvaarbare” rol van 'n vrou in ons samelewing teen mekaar op te weeg.

Volgens van der Walt sal Woestynpsalm se kameras omtrent middel April 2021 met 'n Namibiese rolverdeling en 'n internasionale filmspan begin draai.

Dié bekwame span bestaan uit Namibiese, Suid-Afrikaanse, Amerikaanse en Nederlandse lede. Verfilming sal hoofsaaklik in Windhoek en in die suidelike dele van Namibië plaasvind, moontlik tot so ver as Lüderitz.

Verder sê hy: “Die aanvanklike plan was dat ek Woestynpsalm self deur middel van my vryskut-filmprojekte sou finansier. Tydens die vroeë fases van preproduksie het ons visie vir Woestynpsalm egter aansienlik uitgebrei namate ons Namibië se ongelooflike filmpotensiaal begin ontdek het.

“Daarmee saam het die fliek se omvang en begroting natuurlik ook uitgebrei, tot so 'n mate dat my eie fondse nou nie meer genoeg is nie. Ons is tans op soek na plaaslike ondersteuning wat ons kan help om hierdie fliek 'n realiteit te maak. Ons wil graag Namibiërs wat dink dat hulle 'n bydrae kan maak, aanmoedig om na ons uit te reik.”

Anna Lee, die vervaardiger, skryf: “Selfs al was nie ek of Rex, die kinematograaf, al voorheen in Namibië, of selfs in Afrika nie, raak ons albei meer en meer vertroud met aspekte van die kultuur wat so aanwesig is in Ben se persoonlikheid, bloot deur ons vriendskap met hom. Ons het stukkies en fragmente versamel uit stories, prente, die aksent en intonasies, die spraakgestaltes. Ons weet die klimaat is droog en dat dit selde reën. Ons weet van die voorkoms van die Christelike godsdiens in die samelewing. Ons weet dat die land 'n voormalige Duitse kolonie was en dit uitgestrek is met kilometers en kilometers leë paaie en woestyne en gruis en grond. Wat ek wil sê, is hoewel nie een van ons eintlik al daar was nie, voel ons soms of ons al was, wat ons amper nog meer wil laat gaan.”

Woestynpsalm se première en vrystelling word vir Oktober vanjaar beplan.

Vir meer inligting oor hierdie film, besoek die webtuiste www.woestynfilm.com. Om op hoogte te bly van die nuutste verwikkelinge, volg Woestynpsalm op Facebook en Instagram.

Om 'n bydrae te maak, kontak vir Van der Walt by +1 917 459 9154 (slegs WhatsApp) of +264 81 333 1111 (SMS en oproepe), stuur 'n e-pos na [email protected] of besoek die Indiegogo-webblad: https://igg.me/at/woestyn-film/x#/.



DIE FILMSPAN:

NAMIBIë

Ben van der Walt (skrywer en regisseur, student aan NYU, New York)

Benjamin Jacobs (klankopname en ontwerp, honneursstudent aan AFDA, Kaapstad)

F.C. Smith (kamera- en beligtingsassistent, honneursstudent aan AFDA, Kaapstad)

Anika Henning (veldtogbestuurder en rolverdeling, student aan die Aleit Academy, Somerset-Wes)

Ester van der Walt (mediaraadgewer, gegradueerde van die Universiteit van Kaapstad)

Alida van der Walt (administratiewe koördineerder, honneursstudent aan die Stellenbosch Universiteit)



SUID-AFRIKA

Janay Coetzee (produksieontwerper, honneursstudent aan AFDA, Kaapstad)

Danielle Jansen (grafiese ontwerper, gegradueerde honneursstudent van die Stellenbosch Academy of Design and Photography)



VSA

Rex Sang (kinematograaf en medevervaardiger, student aan NYU, New York)



NEDERLAND

Anna Lee (vervaardiger, student aan NYU, New York)

Maxim Velli (webtuiste-ontwikkelaar en grafiese ontwerper, Amsterdam)

Soortgelyk

 

Profeet TB Joshua sterf

4 ure gelede | Mense

Die bekende evangelis en filantroop, past. Temitope Balogun (TB) Joshua, is dood.Is het Saterdagaand, 'n week voor sy 58ste verjaardag, in Lagos, Nigerië gesterf, berig...

Polisieman in Kuisebmond doodgesteek

14 ure gelede | Misdaad

'n Konstabel wat by die polisiekantoor in Kuisebmond diens doen, is in die vroeë oggendure Saterdag dood nadat hy naby sy meisie se huis deur...

Ses sterftes stoot syfer oor 900, 480 nuwe gevalle

20 ure gelede | Gesondheid

Ses nuwe sterftes stoot die totale syfer vir Namibië oor die 900-kerf tot 905. Die sterftes is vier in Windhoek en een elk in Outjo...

Covid-19: Gevalle styg in 24 uit 35 distrikte

1 dag gelede | Gesondheid

Namibië bly in die kloue van ‘n nuwe brander Covid-19-infeksies.Gedurende die sewe dae tot Donderdag het nuwe gevalle in 24 van die land se 35...

22 sterftes, 596 nuwe gevalle

1 dag gelede | Gesondheid

Die Covid-19-verwante sterftesyfer vir Namibië skiet met nog 22 - 12 in Windhoek, twee in onderskeidelik Rehoboth en Walvisbaai, drie in Mariental en een elk...

Rehoboth soek strenger aandklok-monitering teen Covid

2 dae gelede | Gesondheid

Die United People's Movement (UPM) het die streeksbevelvoerder van die polisie in die Hardapstreek, komm. Andries van der Byl, gevra vir polisieversterkings op Rehoboth sodat...

Beesvleisforum vorder met abattoirplan

2 dae gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer – ’n Groep bekommerde beesprodusente wat ten alle koste Namibië se nismarkte in die buiteland vir die voortbestaan van dié bedryf wil beskerm,...

Avonturier verdrink byna tydens riviervaart

2 dae gelede | Mense

Ronelle Rademeyer – ’n Suid-Afrikaanse avonturier wat verlede week ná 55 dae en 2 200 km in sy geel roeiboot die Oranjerivier se monding by...

Harmse on unlimiting the future

2 dae gelede | Mense

Barney Harmse was born in Mafikeng in South Africa in 1970 and his family moved to Namibia when he was just four years old. From...