'n Ode aan my dierbare moeder
'n Ode aan my dierbare moeder

'n Ode aan my dierbare moeder

Dani Booysen
/Awebahe //Hoeseb skryf:

'n Ma is die een ouer met wie 'n kind merendeels 'n veel sterker sielkundige verbond en 'n fisiese verbintenis het as wat hy of sy ooit met 'n Pa kan hê.

Dit kan heel eenvoudig toegeskryf word aan die feit dat 'n fetus min of meer nege maande lank binne-in die baarmoeder van die ma deurbring en eers nadat die ma geboorte aan die kind geskenk het vir die eerste keer begin om fisies 'n emosionele band met 'n pa smee. Snaaks genoeg, vir die een of die ander rede wat ek tans nog nie in staat is om te ontrafel nie, kweek 'n ma en haar seunskind 'n kameraadskap aan en 'n ma kom veel beter oor die weg met haar seun as met haar dogter, en terselfdertyd kom 'n pa en sy meisiekind lateraan veel beter oor die weg met mekaar as wat 'n pa en sy seun met mekaar oor die weg kom.

Daarom is daar geheime wat 'n seun met sy ma sal deel wat hy nie teenoor sy pa sal noem nie, en net so is daar dinge oor haar dogter wat vir 'n ma verborge sal bly, maar waaroor 'n dogter oop kaarte met haar pa sal speel en met alle gemak aan haar pa sal openbaar.

Om 'n ma te wees, is 'n uitdaging soos min, veral as 'n ma meer as een kind het, want die kinders ding dan mee vir die aandag, liefde en omgee van hul ma, en daar word van 'n ma verwag om vir al haar kinders 'n gelyke dosis van aandag, liefde en sorg te skenk.

Dis juis hoekom 'n mens sal agterkom dat sommige kinders 'n ma vir hulself as enkelinge toe-eien en uit pure selfsug praat van “Ti Mamas”, wat beteken, “my ma”, en glad nie na hulle almal se ma verwys as “Sada Mamas” of “Sida Mamas”, wat “onse ma” beteken nie.

Die ma moet by tye die rol speel van die aanhoorder van klagtes, die beoordeelaar, asook die ene wat strawwe oplê en die pak uitdeel. 'n Ma moet ook intree as bemiddelaar wanneer haar kinders mekaar die stryd aansê, en menigmaal word sy daarvan beskuldig dat sy vir party van haar kinders voortrek en tegelykertyd vir andere aan die agterspeen laat suig.

'n Ma moet die rol van noodhulpbeampte vervul en eerstehulp aan haar kinders verleen in tye van nood; 'n verpleegster wees en haar siek kinders self versorg as hulle olik is, en 'n geneesheer se plek as kwaksalwer volstaan wanneer haar kinders deur 'n kwaal oorval word. Juis daarom is 'n ma in staat om heel nag met haar siek kind deur te bring, en dit na 'n volle dag se werk, terwyl dit vir 'n pa meestal kammakastig 'n onmoontlike taak is om te verrig.

Goeie moeders het 'n sagte plekkie in hul diepste wesens vir al hul kinders, onderwyl 'n oorgrote meerderheid van die kinders intense, tere gevoelens koester jeens hul moeders.

'n Ma is baie belangrike, asook spesiale wese wat 'n onmisbare rol vervul in 'n kind se lewe, en dit is die rede hoekom ek baie lief is vir my ma, /Augu //Hoeses, en haar veel meer as enige ander vrou op hierdie hele aarde bemin.

My ma, /Augu //Hoeses, was en is nog steeds 'n besondere prysenswaardige ouer vir my, en daarby my vertroueling en 'n ware vriendin.

Sy beskou vir my, haar seun, as een van haar geskenke van God bloot omdat ek haar eniggebore seun tussen drie dogters is, en ook haar laasgebore kindjie is, alhoewel ek deesdae met my kinders en ander kleinkinders moet meeding vir haar aandag en liefde. . .

Kommentaar

Republikein 2025-09-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer