’n Lewe van woorde

23 August 2019 | Kuns en vermaak
Ronelle Rademeyer - Swakopmund is die ene triestigheid toe Marié Blomerus my by die voordeur van die woonstelblok ontvang waar sy die afgelope vyf jaar in ’n ruim dakwoonstel met ’n onverbeterlike uitsig op die Atlantiese Oseaan woon.

Sedert sy in 2012 rubriekskrywer vir Kollig geword het, korrespondeer ons gereeld en besoek mekaar wanneer die geleentheid hom voordoen.

En soos elke keer vantevore is ek asemloos oor hoe jeugdig sy steeds is. Dit tref my skielik dat die woord “bejaard” nooit by my opkom as ek in die geselskap van dié 88-jarige bekroonde digter en skrywer is nie.

Die doel van my besoek is om haar nuwe boek, Porseleinskerwe, te gesels. Dit verskyn vroeg in September by Protea Boekhuis en is die gebundelde weergawe van haar rubrieke wat sedert 2012 oor tyd in Kollig verskyn het, asook ander kortverhale en essays.

Die flapteks beskryf die inhoud só: “Haar herinneringe, indrukke en woordprentjies val rondom enkele temas oop: Haar aantreklike, eksentrieke familielede, Namibië se geskiedenis en haar reise in die vreemde.

“Daar is fassinerende stukkies geskiedenis, woordbeelde van haar Oupa Suidwes soos 'n skraal koning in die veld, haar boheemse tannie Dora wat na grasangeliertjies ruik, haar mooie ma wat die Charleston dans en 'n familie wat saamsing en graag lag. Daar is onvergeetlike reisbeskrywings en besinnings. Haar humorsin, nuuskierigheid en talent vir verwondering is tydloos.”

Het jy ooit gedink jy sal weer in jou geboorteland kom woon, vra ek toe sy vir my tee in die allerfynste Bone China-koppie aangee. Sy is as jong vrou uit Namibië weg en het op 83 teruggekeer huis toe.

“Ek het gereeld teruggekom met vakansies en besoeke aan vriende, maar dis eers ná al my kinders hul voete gevind het, dat ek gedink het ek wil hier wees as ek die dag die lewe verlaat. Ek dink dis John Steinbeck wat iets gesê het soos ‘no one should be buried in foreign soil’. Só kom ek toe hierheen voor ek die lewe verlaat, en begin ’n nuwe stuk lewe!

“Ek is al byna vyf jaar terug en moet my geboortegrond van vooraf leer ken. Ek het teruggekeer uit ‘n boomryke en blomryke Pretoria; terug na die Namib met die see aan my westekant en die woestyn aan my oostekant.

“Ek is terug tussen die kameel- en al die ander doringbome, die geel ‘Morgenstern’ (indien dit reën), die silwer grasse, die blouste berge – waarvan die Erongo’s my gunsteling is - en bo alles die ongelooflike wydtes en vlaktes waar mens jouself leer ken soos nêrens anders nie.

“Soms sien ek die geliefde land in ’n waas van weemoed wat oor alles hang, en sonder omhaal tot in die diepste kronkels van die brein dring en alles word benouend. Dan kom ’n nuwe sug na verandering, na dit wat hierdie land lank gelede was,” sê Marié.

Ons gesels oor dit waardeur sy alles in haar leeftyd is: Die Groot Depressie en droogte van die vroeë 1930’s, toe die Tweede Wêreldoorlog, die Koue Oorlog, die Namibiese bevrydingstryd, grensoorlog en onafhanklikwording.

“Daar was die maanlanding, die koms van televisie en die ontploffing in tegnologie. Voeg daarby ’n mens se eie lewe van verandering en verliese, met al die wonderlike dinge daarmee saam, en jy besef dit was ’n vol lewe.”

WOORDBEHEP

Deur alles staan haar liefde vir woorde voorop.

“Voor my vierde verjaardag was ek reeds woordbehep, hoewel ek dit glad nie geweet het nie. Maar nou onthou ek vyeboom, lusern, skilpad, slang, akkedis, krimpvarkie, sand en boerbok, kalkoen, tarentaal, luiperd, druiwe, vye, perskes, waatlemoen, kraletjies en pêrels, skaduwee, son, maan, sterre, rivier en brug en boonop dood.

“Dan was daar die Herero-groet ‘wapenduka’ en ‘butterfly’, ‘wings’ en die aanhaling ‘Although fond of many acquaintances, I desire intimacy only with a few. The Man in Black is one whom I would like to mention, for he possesses my esteem’ wat ek altyd agter my Dada aan gesê het wanneer hy tyd gemaak het om my op sy knie vas te hou.”

Marié onthou met groot dankbaarheid haar grootouers se besondere invloed op haar lewe. “Oupa en Ouma Blomerus – Oupa John en Ouma Ronella – was oorspronklik van Richmond in die Kaapprovinsie, later Britstown waar hulle getroud is en Oupa onderwyser was. Van daar na Keimoes op die walle van die Gariep waar hy steeds kinders onderrig totdat hy bots met die skoolraad en die NG Kerk omdat hy die leerlinge vertel het dat die aarde draai. Toe word hy plaaslike kleinhandelaar.

“Albei was stil, teruggetrokke, bedrywige mense, baie gesteld op goeie maniere, korrekte taalgebruik, goeie gedrag en nie oorgodsdienstig nie. Hulle is dood toe ek 22 was.

Oupa en Ouma Mudge het met hulle gesin van Van Rhynsdorp na Otjiwarongo getrek en daar by die Paresisberge op ‘n plaas geboer. Ouma Léne het ek tot net voor my vierde verjaardag geken. Sy is toe oorlede. Oupa Dick het ek tot ná my 21ste verjaardag geken. Hulle was albei baie hardwerkend. Oupa was vol grappe en kwajongstreke en baie lief vir die veld.

“Omdat my ma meer dikwels by haar eie familie gekuier het, het ek my Mudge-neefs en -niggies goed geken. Die veld was ons woning en speelplek, sowel as die plaasdamme waarin ons ure lank rinkink het. Ons het ’n matelose vryheid ervaar.

“My ma se mense was gemoedelik, spraaksaam en daar was baie saamtrekke van vriende en familie. Daar is gesing, gelag, musiek gemaak en tuisgemaakte dramas opgevoer.

In my tienerjare het ek veral met my oudste neef, Dirk, ’n standhoudende neef-niggie-vriendskap opgebou.

“Hoewel ons almal met die grootword in verskillende rigtings gespat het, is ons steeds heg verbind, al sien ons mekaar nie dikwels nie. Vir my beteken familie besonder baie. As daar aanklank is, moet dit gekoester word as iets kosbaar,” vertel Marié.

Ons gesprek gaan draai weer by haar woordbeheptheid en sy vertel hoe sy as jong getroude deur die redakteur van Die Suidwester gevra is om vir hom berigte vir sy koerant uit die platteland te stuur. “Toe word ek sommer joernalis met pen en papier en rapporteer alles wat op die bedrywige myndorpie Oranjemund aangaan: Politieke toesprake, mynbedrywighede, troues, ensovoorts. Met my eerste besoldiging het ek vir my ’n groot, rooi Groot Verseboek gekoop,” onthou sy.

Haar eerste gedigte het juis in Die Suidwester verskyn, en nie lank daarna nie ook in die Tydskrif vir Letterkunde.

Dit was met haar verhuising na Pretoria in 1962 dat haar skrywersloopbaan behoorlik op dreef gekom het. Haar eerste digbundel, Fosforblom, het in 1968 verskyn.

Die res is, soos hulle sê, geskiedenis.

Haar woorde is lank nie op nie, sê Marié.

“Fisiek gaan dit stadiger, maar in my kop is ek nog lank nie uitgeskryf nie.”



KASSIE 2

VYF VRAE

As jy môreoggend wakker word en jy is 28 jaar oud in hierdie dag en tyd, hoe sal jy jou lewe anders aanpak?

Ek sal dadelik ’n lys maak van al die verre plekke wat ek wil sien en begin om vir elkeen een of ander plan uit te dink. Ook sou ek beluit om meer te dans, soos in Dans. Want in dans is daar iets opgesluit wat die liggaam en gees verenig en alle sorge laat verdwyn. Ek dink nie enige ander sport kan dit bewerkstellig nie.

Oor watter ongereisde reis is jy die spytste?

Ek is die meeste spyt oor Egipte, veral Luxor en Karnak, en alles te make met die Nylrivier en die Sahara. In laasgenoemde stel ek my voor moet nog plekke wees wat selfs stiller as die Namib en die Kalahari is. ’n Lig-suisende stilte soos die aarde voordat dit bewoon is.

Daar is ’n baie langer lys van spyte oor ongesiene plekke. Hulle lê swaar in my skedel.

Droom jou soms jou stories op en pen dit daarna neer?

Ek pen niks neer wat nie eers opgedroom is nie. Soms is dit net een woord wat die aanleiding is. Soos byvoorbeeld ‘n paar weke gelede die woord “naaldekoker”.

Wat mis jy die meeste van die Swakopmund van 60 jaar gelede?

Dit was klein en vriendelik en het nog ’n rolprentteater gehad wat rolprente na my smaak vertoon het. Daar is nog Sondagmiddae deur die meeste inwoners gewandel en die klein winkeltjies het nog iets in hul vensters vertoon waarna mens met begeerte kon kyk. Daar was ’n algemene vrolike atmosfeer en veel Duitse “gemütlichkeit” en mens kon by private tuiniers sommer ’n bossie wit angeliere met rooi randjies gaan koop.

En outydse grammofoonplate met die beste stemme van daardie tyd soos byvoorbeeld Kirsten Flagstad, kon jy by die enigste boekwinkel kry. Wat ’n genot om daar uit te stap met haar plaat van Grieg se “Ich liebe dich”? Min nuwe aangeleenthede kan daardie gevoel vervang. Die see en die woestyn is feitlik nog dieselfde, maar die atmosfeer het, helaas, baie verander.

Aan watter moderne uitvindsel is jy die verknogste?

Gelukkig nie te veel aan enige een nie. Sommige is bloot handig en maak sake soms makliker, maar ook nie altyd nie.



KASSIE 1

KORTLIKS

Marié Blomerus is op 24 Desember 1931 op Keetmanshoop in die destydse Suidwes-Afrika gebore.

Sy het nie met die gewone kinderrympies grootgeword nie, maar is reeds op driejarige ouderdom sonder prentjies uit die Nederlandse, Engelse en Afrikaanse letterkunde geleer om die klank van woorde te waardeer.

Sy begin haar skooldae in die Namibwoestyn en dit is waar haar hart vandag nog lê. Die wye vlaktes en die verre blou van berge, met die duine teen die kus, is haar mees geliefde stukkie aarde. Afgesien van die Namib leer sy reeds vroeg die res van haar geboorteland ken: Die geskiedenis, die verskillende inwoners, die klimaatstreke, die stiltes en die verskeidenheid van die flora en fauna.

Marié se eerste gedigte het in die destydse koerant Die Suidwester verskyn, vir wie sy later uit die platteland as vryskutkorrespondent gewerk het. In 1959-’60 ontmoet sy die skrywer W.A. de Klerk met die maak van ’n dokumentêr oor Suidwes-Afrika. Na aanleiding van hierdie ontmoeting word haar gedigte wyer gepubliseer.

In 1962 verhuis sy na Pretoria en raak in 1965 betrokke by ’n groep digters wat gereeld vergader. Sy en die skrywer Phil du Plessis neem die avant garde-tydskrif Wurm by die skrywer De Waal Venter oor en terselfdertyd werk sy vir ’n jaar lank by die departement van statistiek. Die tydskrif word vinnig ’n soort internasionale verhoog vir meesal onbekende buitelanders.

In 1968 verskyn haar eerste digbundel, Fosforblom, in 1975 Soo-oo-oopwa, ’n novelle met Kaapkruis as agtergrond, en ook Blou as Beginsel van Duisternis (digbundel). Haar digbundel Ithaka verskyn in 1985 en Seisoene van Terreur, ook ’n digbundel, in 1988.

Van 1980 -1984 werk sy as dokumentêre draaiboekskrywer by ’n private filmmaatskappy en in 1984 word sy afdelingshoof van Scenario by Unisa. Sy tree in 1997 in die ouderdom van 65 af, maar hou haar besig met vertalings van ligte leesstof.

In 2011 pak sy ’n moeilike mediese vertaling, 1 000 Kure vir meer as 200 Kwale (Konvensioneel, Homeopatie, Tradisioneel-Chinees, Kruie en Naturopatie) aan en werk sewe maande aan die 996 bladsye.

Haar rubriek Lugspieëlings verskyn van 2012 tot 2017 gereeld in Kollig.

Sy woon op Swakopmund in ’n dakwoonstel met ’n uitsig op die see.

Soortgelyk

 

Nege sterftes, 307 nuwe gevalle

11 ure gelede | Gesondheid

Nege nuwe Covid-19-verwante sterftes het die getal vir Namibië sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie in Maart verlede tot 328 opgestoot. Dit sluit vier in...

Hof sal later sê of Shoprite bevel geminag het

13 ure gelede | Howe

Regter Collins Parker sal op 15 Februarie 2021 uitspraak lewer in die teenaansoek deur die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) teen Shoprite...

Eloïse bring dalk storms

18 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Die tropiese depressie, of dit wat oorgebly het van wat aanvanklik sikloon Eloïse was, kan vanaf môre vir kwaai storms in Namibië...

Swakoppoortdam loop oor

1 dag gelede | Weer

Die Swakoppoortdam, een van die drie damme wat ook vir Windhoek van water voorsien, het gister begin oorloop. Volgens die NamWater se damverslag van gister...

Voorvaderlike eise: Alle grond benut

1 dag gelede |

Mathias Haufiku en Ogone TlhageDaar is tans geen oop grond in Namibië beskikbaar nie aangesien alles benut word. Die Kommissie van Ondersoek na Voorvaderlike Grondregte...

Woestynrivier laat lóóp

1 dag gelede | Weer

Mnr. Joseph Kafunda het Sondag die Kuisebrivier in volle vloed by die Kuiseb-brug op die C14-pad afgeneem. Sy foto’s is op die Facebook-blad, Reën in...

Noorde: Té nat én té droog

1 dag gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl boere in Namibië se Mieliedriehoek reeds drie weke lank wag dat die reën hulle net ’n paar dae kans moet gee...

Making the art of painting look easy

1 dag gelede | Mense

Enzo AmueleBorn in the early ’90s, the cool and calm Nambowa Malua has been drawing since he was a child and has made art look...

Shoprite steeds in die hof

1 dag gelede | Arbeid

Augetto Graig en Elvira HattinghDie staking by Shoprite is ná meer as ’n maand verby, maar die hofgeveg wat daaruit gespruit het, woed opnuut vanoggend...