’n Kabeljoulose Hentiesbaai
Elvira Hattingh - Saterdagoggend knoop Hentiesbaaiers en vakansiegangers geselsies in Spar se parkeerterrein aan. Kaalvoet met baadjie oor die skouers, skemeroggend se eerste visvangsessie agter die rug.
Vandag is die geroeste bakkies leeg, die kabeljou-loop is skynbaar iets van die verlede.
“Ek kóóp sommer ‘n kabeljou! ” laat ‘n visserman wat uit ‘n bakkie met ’n GP-nommerplaat klim, luidkeels in Engels hoor.
“Dit gaan ook nie werk nie, die winkels sal ook nie hê nie,” korrigeer hy homself, “want hier is nie een kabeljou in hierdie hele see nie!”
“Ek sê jou mos, jy moet laat hierdie Namibiër jou leer visvang,” is ‘n verveelde antwoord wat hy kry voor die kerktannies se pannekoekbakkery op die stoepie jou neus prikkel.
“Vier vir N$20, lekker eet, my kind,” terwyl die oggend se verkope sorgvuldig in ‘n boekie aangeteken word. Voorskoot, haartjies mooi op hul plek, en sy ruik soos my ouma – na blomme en outydse “dollie-haar-op” parfuum.
Ons hou vanjaar láát vakansie, wanneer almal anders reeds weer begin werk het. Ons het die hele, “kabeljoulose” see vir onsself.
Strand toe, afgepak en die mis aan die wyk, sit jy net en staar na die wonderskone see. Magtige branders wat soos perde hul koppe buig en stranduit hardloop, wit maanhare in die wind. Die skepping vertel jou iets, as jy maar net sou luister.
Tone in die sand of boogie board die branders in. Dis lafenis vir die siel, salf vir jou gemoed ná ‘n jaar se klipharde werk, ‘n jaar se wel en wee, hoogtepunte en laagtepunte.
Jakaryntjie en Pappa speel met ‘n kite, sy jaag die kite se toue, tel skulpies op en grou in die sagte sand. Ons swem ‘n bietjie, lag ‘n bietjie, leef ‘n bietjie.
Want aan die ander kant wag Windhoek se rotresies, verkeersknope en wetsveragtende motorbestuurders. Daar wag ‘n agt-tot-vyf, of dalk meer akkuraat, ‘n sewe-tot-ses.
Op Hentiesbaai sou ons kon bly – daar waar almal van jou sou kon vergeet, was dit nie vir vakansietye nie.
En as jy jou weer kan kry, sit jy op ‘n Maandagoggend met ‘n stroewe gesig in ‘n verskeersknoop, soos almal rondom jou. Die Hentiesbaaie van hul lewe vergete, op auto pilot en meganies tot hul vel tydens die naweek weer ‘n bietjie kleur kry.
Jammer dat ons die min dae van ons lewens omwens en net vir Hentiesbaaie leef. Dit behoort anders te wees.
Só kom alle goeie dinge tot ‘n einde en my nuwe jaar begin nóú.
Ek weet hierdie jaar sal ook sy mooi en swaar tye bied.
Weer eens moet jy jou lewenspaadjie na die beste van jou vermoë bewandel en beheer neem oor die rigting van hiérdie pad sodat jy jou strewes kan bereik.
Doen dit met genoeg dankbaarheid en onthou, wat jy het en is, is vanweë sola gratia – uit genade alleen. En dit is genoeg.
Voorspoedige 2019.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie