'n Heenkome ná vrylating

‘n Nieregeringsorganisasie gaan gevangenes landswyd help om ‘n heenkome te vind nadat hulle vrygelaat is sodat hulle nie weer na misdaad terugkeer nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

’n Nieregeringsorganisasie Ondundu Youth Development se nasionale inisiatief vir geletterdheid onder gevangenes het Vrydag (29 Okt) amptelik op Grootfontein afgeskop.

Die program, wat mettertyd landswyd by tronke uitgerol sal word, beoog om jaarliks sowat tien gevangenes per streek in te neem en te help om ‘n heenkome te vind nadat hulle hul vonnisse uitgedien het, het mnr. Dion Filipe, voorsitter en medestigter van dié organisasie aan Republikein gesê.

Volgens die Ondundu Youth Development se medestigter, mnr. Eino Mbango, kan hulle aan vrygelate gevangenes verskeie opleidingsgeleenthede bied, wat hulle sal help om regmatige burgers van die samelewing te raak.

Die hoop is dit sal verhoed dat hulle ná hul vrylating weens ‘n gebrek aan geleenthede weer tot misdaad sal terugkeer.

“Ons sal hulle help om te registreer om gratis by verskeie beroepsgerigte onderriginstansies te studeer, terwyl hulle ook gehelp sal word om by die ministerie van sport, jeug en nasionale diens asook gemeenskapsontwikkelingsorganisasies en sakeagentskap vir intellektuele eiendom te registreer.

“Dit sodat hulle entrepreneurs kan wees en betrokke kan raak in gemeenskapsopheffingswerk asook projekte waarin hulle persoonlik kan ontwikkel,” het hy gesê.

Terselfdertyd sal hulle ook gevangenes help om by sportfederasies te registreer.

Ander wat daarin belang stel, kan motiveringsprekers word. “Ons sal ‘n uitgesoekte paar na ons openbare geleenthede nooi sodat hulle oor hul foute kan praat en raad aan ander kan bied, soos ons na ander streke reis,” het Mbango gesê.

Die gevangenes het die inligting met opgewondenheid ontvang. Die geleentheid is ook deur dorpsleiers soos die raadslede mnr. Gabes Geigub en me. Thalitha Garises bygewoon. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer