u2019n Hartseer lewe is steeds u2019n gawe
u2019n Hartseer lewe is steeds u2019n gawe

’n Hartseer lewe is steeds ’n gawe

Augetto Graig
Die wêreld is wreed en die lewe vol hartseer, onregverdigheid en afguns. Verkragting, aanranding, inbraak en diefstal, ontvoering en moord is soos bose geeste wat om ons almal dwaal en ons uitsig verduister. Soms is net die gedagte van hierdie gruwels genoeg om ’n mens se hele dag onsmaaklik te maak.

Wanneer enige van dié of ander rampe toeslaan, saai dit verwoesting wat wyd kan strek. Nog erger; dit is ’n onvermydelike deel van die lewe. Een of ander tyd, op een of ander manier, hier of daar, effens of erg, jy sal seer kry.

Die dood word dikwels as die aakligste van die lewe se seermaak beskou. Dit is wel finaal. Daarin is egter ook die verlossing van die dood; dit kan die einde van ellende beteken, die einde van stryd, die einde van swaarkry, die einde van hartseer. Die dood is ook anders as die donker dae wat mens moet deurbring, omdat mens nie die nagevolge van jou eie dood moet ervaar nie.

Selfs met dood moet mens aanhou saamlewe met die leemtes wanneer geliefdes sterf. Dit is die “aanhou lewe” wat vir my die kern van die kwessie is. Hou mens aan? Gaan mens voort? Staan mens op ná die werklikheid jou harteloos platslaan?

Ek dink die antwoord lê in jou rede om op te staan. Kyk, as jy regtig wil dan kan jy, hoewel dit nie noodwendig beteken jy sal nie. Die verskil tussen kan en sal in dié geval, voel ek, word beïnvloed, selfs bepaal, deur hoekom jy wíl aanhou. Soek daardie rede. Kry ’n rede wat jou persoonlik aanspoor.

In my lewe het my rede om te lewe baie verander. As kind het ek in my gedagtes verdwaal, baie in my gevoelens gekruip en ek was goed daarmee om myself te bejammer. My vrou laat my nóú nog toe om nou en dan myself te bejammer, bloot uit gewoonte.

Ek is dankbaar dat sy dit nog verduur, maar ook nie vir té lank nie. Sy sal my vinnig herinner dat daar nog altyd baie is om voor dankbaar te wees. Ons is al sewe jaar getroud, en baie langer as dit gee sy my meer goeie redes om myself op te lig en aan te stoei. Vandag het ek oorgenoeg redes om te wil lewe. Daar is ’n wonderlike toekoms om te bou, en elke dag bied my mensies my oomblikke wat skitter met vreugde en wonder.

Ek dink vir my het als verander toe ek die dag besef het hierdie lewe, selfs met sy donker tye en bose magte, is steeds ’n gawe. Die lewe is vir my gegee en ek kan dit geniet, maar sal dit nooit verdien nie. Ek sal ook nooit werklik beheer oor die lewe hê nie, en dit kan enige tyd, binne ’n oomblik, van my geneem word. My lewe is so uniek soos ek dit maak en my verantwoordelikheid ondenkbaar gewigtig, as ek dit sou aanvaar. Niks is aan my verskuldig nie.

Ek het wel wat ek het, ek is waar ek is, ek haal asem en ek lewe nog. Dankbaar sal ek die beste daarvan maak.

Kommentaar

Republikein 2026-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer