’n Halfgebakte rapliedjie
Iréne-Mari van der Walt
Ek is ’n voltydse joernalis en deeltyds ’n nuuskierige agie. So wanneer die wêreld begin gons oor Cardi B en Megan Thee Stallion se musiekvideo, WAP, is ek natuurlik die eerste om dit te gaan kyk, want om dit self te sien moet jy mos glo – dit was ’n fout gewees.
Voor ek die video gekyk het, het ek oral argumente teen die skerp kritiek van die video gesien, maar geen skerp kritiek nie. Hierdie argumente teen die kritiek bevat oor die algemeen woorde soos ‘patriargie’ en ‘gelykheid’ en as ’n groot vegter vir gelykheid het hierdie video onmiddellik my aandag getrek.
Die video kon egter nie vir die volle 4 minute en 12 sekondes my aandag hou nie. Ek moes omtrent halfpad dit neersit en asem skep. Ek het ’n vrouebemagtigingscredo verwag – iets wat, soos die vreemdelinge aanlyn gesê het, vroue herdenk en die onderdrukking wat vroue ervaar, iets in die lyn van die middelvinger gee.
Ek kry eerder ’n halfgebakte rapliedjie wat van hoek tot kant besmeer is met eksplisiete beelde en vulgêre lirieke. Ek het nie bemagtig gevoel nie; ek het nie die mag van vroulike seksualiteit gevoel nie. Ek het nie gereed gevoel om patriargie met my kaal hande uitmekaar te skeur nie – ek het vuil gevoel.
Die kritiekverweerders beweer hierdie liedjie en video vier vroulike seksualiteit en die idee van vroulike seksualiteit wat patriargie in vrouens se koppe ingeboor het ’n klap in die gesig gee, maar ek kan nie sê ek stem saam nie.
As ons na patriargie se mening oor die vroulike anatomie en vroulike seksualiteit luister, kry jy twee konsepte: Die skaam huisvrou of Delilah.
Seksualiteit moet nie bespreek word nie; dit moet nie in ’n vrou voorkom nie, vrouens moet stil en onderdanig en maagdelik wees soos die huisvrou.
As sy nie die huisvrou is nie, is sy outomaties ’n Delilah – ’n vrou wat haar seksualiteit gebruik om ’n man te verlei en manipuleer. Hulle sê dit nou wel nie in soveel woorde nie, maar ’n aand of twee saam met ’n Delilah voor hy met sy maagdelike huisvrou trou, is meeste mans se droom.
Dié musiekvideo beeld die idee van ’n Delilah uit. Dit vier vroulike seksualiteit op ’n manier soos wat patriargie vroulike seksualiteit sou vier – totaal vir manlike gebruik. Die liedjie gaan oor hoe goed die skrywers dink hulle aan ’n man plesier kan gee – dit is nie hoe ek as vrou myself vier nie. Ek vier myself deur hoe ek myself sien, nie hoe ’n man my sien nie. Patriargie vier wat ’n vrou vir ’n man kan doen.
Hierdie video is ’n kru manier om mag uit patriargie se hand te neem, maar die probleem met patriargie is nie wie mag in patriargie besit nie. Die probleem met patriargie is patriargie.
Hoekom sukkel ons om die oorhand in dié problematiese stelsel te kry? Ons behoort saam te veg om die stelsel af te breek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie