u2019n Gekletter in penneridders se versamelnes
u2019n Gekletter in penneridders se versamelnes

’n Gekletter in penneridders se versamelnes

Des Erasmus
Des Erasmus - Hulle is soos die voëls wat die versamelneste bou. Ongeag die geleentheid of die plek trek hulle uiteindelik almal saam. En dan gons dit gewoonlik soos in die kommunes van die mens se geveerde vriende.

So was dit weer die naweek in Windhoek waar die Toerisme Ekspo as blink toonvenster van een van Namibië se grootste verdieners van buitelandse betaalmiddele was. Die ryk sous op die sonderlinge sosiale glanspunt en interkommunikasie tussen die rolspelers in een van die land se presteerders in moeilike ekonomiese tye was die veertigste verjaarsdag van Republikein.

Toe word rolle bietjie omgekeer met van die hardebaarde van die bedryf wat nie daar met ‘n griffel en ‘n notaboekie staan om verslag te doen nie, maar self op die verhoog en voor die kameralense is. Deon Eysele, Ronelle Rademeyer, Jo-Maré Duddy-Booysen en die snare. Kyk hulle ‘n slag so en sê vir myself: Dié keer is die tandarts self in sy stoel.

Maar weer was dit soos altyd. Pas het ‘n onsigbare doek die verhogie toegetrek of die ou spul klos weer om ‘n eie tafel by die krip van ‘n koffiekroeg saam waar nie net koffie geskink word nie. Baie keer is al gemeen dis nie die beste geselskap om in te verkeer nie, maar die manne en vroue verstaan mekaar.

‘n Terugblik op die middag was met die lang reis huis toe padkos toe aan ‘n voorbeeld van lank gelede in Kaapstad gedink is. Dit was klink en blink en swier wat deur joernaliste, sommer gewone verslaggewers en koerantmanne en fotograwe van glansbladpublikasies se mense bygewoon is. Skaars was die geleentheid so ‘n twintig minute oud of al die penneridders klos in een hoek saam. Naam, kleur en herkoms maak nie saak nie, daar word gekuier.

Het iemand al ‘n koerantman in ‘n aandpak gesien? Dis amper soos die drie V’s van ‘n vreemde vlieënde voorwerp. Die geografiese verspreiding van die geselskring lê wyd soos hul taalverskille, maar hulle verstaan mekaar, want drukkersink was in die jare waarin hulle grootgeword het.

Deesdae word in die nuuswêreld geskimp oor die bedreiging wat die sosiale media vir die gedrukte bedryf en die eter se nuuskanale inhou. Bangmaak se voet, kom ‘n teenargument. Daar is altyd ‘n storie agter die storie. Net die speelveld het verander. Die verslagkuns is dan juis een van die oudste beroepe van die mensdom.

Die Tien Gebooie wat steeds ‘n wegwyser in die moderne wêreld is, was dan op klip geskryf.

Die evangelieopstellers van Die Boek was verslaggewers van die lewe en dood van die grootste Wese wat die aardbol betree het. Gaan lees ‘n bietjie na. Elkeen het oor dieselfde tydvak verslag gedoen, maar elkeen het ‘n ander boeg (“angle”) gebruik, maar by die feite gehou. ‘n Amperse siddering kom op wanneer gewonder word oor wat ‘n moderne joernalis met moderne tegnieke se weergawe oor dieselfde verloop sou wees.

Wonder net of Matteus, Markus, Lukas en Johannes nie ook soms ‘n geselshoekie om ‘n kommetjie gaat gevorm het nie.

Die politiek? Die beraad tussen Moses en Farao. ‘n Liefdesverhaal? Onsterflik is Rut, Naomi en Boas. Ramptoestande? Die sondvloed. Militêre beriggewing? Die stryd tussen Israel en die Filistyne en die geveg tussen Dawid en Goliat.

Vandag nog maak die nuuswêreld gebruik van korrespondente, vryskutskrywers en geleentheidskrywers (“stringers”).

Nou waar kan ‘n beter korrespondent aangetref word as juis Paulus met sy sendbriewe.

Eie opvattings bestaan oor joernaliste en koerantmanne. Hulle beoefen ‘n nering, roeping of beroep. Hulle tree nooit af of uit nie. Hulle raak net weg. Hulle sal nooit ryk sterf nie, maar wel gelukkig.

Dit was goed om Windhoek toe te ry.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer