u2019n Gaap in Kowit-laan
u2019n Gaap in Kowit-laan

’n Gaap in Kowit-laan

Elvira Hattingh
Die ding van middelklas-woonbuurte is dat daar in die agtergrond altyd iewers 'n histeriese maltees aan die blaf is.

En dit vir die tannie wat met haar neëntien-seksie lyfie die straat afdraf. Dis darem een goeie ding van 'n lockdown, dit het talle weer gekry om hul rolle te gim.

Jy sien: Elke woonbuurt het altyd iewers daai WhatsApp-groepie met die 1 333 boodskappe per dag. Jy weet, die een waar Elandri haar koeksisters adverteer. Dan baklei 40 keyboard-warriors met haar, want sy wyk van die doel van die groepie af.

Nog 40 baklei weer met hulle omdat hulle baklei sodat hulle op 'n ander plek moet gaan baklei en Liam sweer, as hy daai blaffende maltees beetkry. . . Hy probeer werk van die huis af! Op 'n Saterdag, tienuur die aand! Met die braaivleisvuur hoog, dêmmit!

Die coronavirus sal hom nie ná die klokreël op die straat vang nie, nee wat, die gaste slaap sommer oor. Prosit!

En toe loop iemand met kowit in die plaaslike kruidenierswinkeltjie rond. Dis Ina, sê die WhatsApp-groepie. Of nee, miskien wel Susan van nommer 345!

“Stoppie drawwers, ontsmet die sypaadjies,” meen Erika in 'n stemboodskap met ’n mikrogolf wat in die agtergrond op sy laaste bene tjier-tjierie-tjier-tjier. Daarbinne ry haar koffie om en om. . . ruk-ruk en mors-mors.

Maar haar salarisvermindering beteken vir nou bly die nuwe mikrogolf op die rak.

Sy wonder ook hardop op WhatsApp oor die radio’s en koerante wat so “kowit-kowit”. Elke sterfte is hartseer, betreurenswaardig. Sy voel egter ook jammer vir dié 700 Namibiërs wat jaarliks op paaie sterf (2018), of die 700 aan tuberkulose (2017), of die 2 400 aan vigsverwante oorsake (2018). En nooit enige lockdowns kon kry nie.

“Sjuus, die regering luister,” gil die groepie. “Vir die eerste keer in geskiedenis kan ’n uitlating oor ‘n siekte jou in die tronk kry. Plak jou waenhuisdeur toe met ‘n masker, of jy kan die res van die lockdown in die tronk gaan slaap!”

Terug by die woonbuurt en die, nou werklose en hongerige mense, in hul tronkhuise.

“As jy 'n straat vir jouself wil hê, los jy nou net 'n hoes, poep of nies. Ek belowe, tot die gordyne vlieg toe, die maltees word in die huis ingeroep,” sê Nina. Sy vra ook op WhatsApp wanneer gaan die kruidenierswinkel nou al die kontakte bel van die plaaslike kowit-gevalle.

Want sy merk iets vreemds op aan Helga en Eduan van huis 442.

Nee, herinner Ignus haar, "dissie die winkel se werk om siekes te soekie.”

Sy vererg haar bloedig vir hom en ’n volskaalse oorlog ontstaan op sosiale media. “Hulle keer nie mense om sonder maskers in te kom nie,” skreeu sy in hoofletters, “so hulle is netso skuldig!”

Springvingertjies tokkel sy op haar slimfoon, ’n linker en ’n regter, vat so Ignus!

Wéér kom die tjierie-tjierie mikrogolf met 'n stemboodskap deur op WhatsApp. "Het julle gesien ons word in die koerant genoem! Saam met al die ander duisende kowit-mense. Ag sulke aasvoëls, ag hoe kan hulle! Ag, ons is famous.

“Ag, hulle belemmer nou ons ondersoek om die kruidenierswinkel se siekes te vind! TJIERIE-TJIERIE-TJIERIE."

“Soms, net soms is humor jou laaste verweer”, meen Marius. Die maltees is syne, seg hy verveeld. “En sit die propaganda af, sit dit net af,” sê hy. Verveeld.

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer