’n Blinkvol Von Bach
Op 92,9% is die Von Bachdam (foto) steeds die volste van die drie damme wat die hoofstad en sentrale dele van die land van water voorsien. Dié drie damme hou tans gemiddeld 79,9% water, met die Swakoppoortdam op 84,5% en die Omatakodam 58,9%. Nasionaal hou damme tans gesamentlik 383,314 miljoen kubieke meter (Mm³) water en is gemiddeld 54,8% vol. Dit is bykans dubbel teenoor dieselfde tyd verlede jaar toe damme gemiddeld net 28,2% water gehad het. Volgens NamWater se nuutste damverslag hou die oostelike damme nou gemiddeld 37,3% water, veel meer as Mei 2019 se 1,9%. Die Otjivero-hoofdam het tans 56,4% water, terwyl die Otjivero-slikdam 12,5% water oor het. NamWater sê wateroorplasings vanaf die slikdam na die hoofdam is intussen gestaak. Die Tilda Viljoen- en Daan Viljoendam is onderskeidelik 37% en 55% vol. In die Suide is die Oanobdam steeds die volste op 93,4%, terwyl die Nautedam 86,1% water bevat. Die Hardapdam is steeds 43,3% vol, met die Bondels- en Dreihukdam op onderskeidelik 14,1% en 35,5%. Dit bring Suidedamme se gemiddeld op 54,6% te staan. FOTO ELVIRA HATTINGH
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie