u2018n (Ab)normale Vrydagaand
u2018n (Ab)normale Vrydagaand

‘n (Ab)normale Vrydagaand

Lloyd Zandberg
Vrydagnamiddag. My eerste week terug op kantoor bereik sy einde en my energie is relatief laag.

“Sien jy kans? Net twee,” lees die boodskap van my vriendin/kollega op my selfoonskerm net voor dit lyk of die wolke in die hoofstad wil breek.

“Hoekom nie?” antwoord ek, “die week was woes.”

Sy sê: “Goed. Sien jou dan. Johan gaan een van sy kollegas saambring. Die kollega is ’n chilled dude, hou ook van musiek en so. Effe alternatief.”

“Ek is opgewonde,” sê ek.

Intussen gaan stort ek gou. Ek was die week se dingetjies en uitdagings af.

So sak ek af na Windhoek se Vegas strip: Klein Windhoek se een straat waar restaurante soos mos aan ’n plaasdam se wal sit.

Gesiene en suksevolle Windhoekers hang gereeld hier uit. En dan ons, maar ons is eerder daar vir die pizza- en wyn-specials.

Om verskeie redes gaan ek die betrokke uithangplek se naam verswyg.

Ek is eerste daar. Dis besig. Dit wemel van salaristrekkers wat, nes ek, sukkel om aan die gang te kom. Dis vreemd hoe ’n paar dae weg van die werk jou byna onkundig maak oor wat presies jou beroep behels.

Ek bestel ’n skemerkelkie. ’n Wyle later daag vriendin, Johan en dié se kollega op. Ons sit agter in ’n biertuin. Daar is nie noodwendig blomme en bome nie, maar dis hoe hulle na dié affêre verwys.

Ons besluit gesamentlik op pizza en ons vertoef soos mense wat iets van ’n 13de tjek oorhet.

Januarie is nie jou speelmaat nie. Jy tel nie jou kaloriëe nie. Jy tel jou sente.

Weens Windhoek se onnodige hitte skuif ons vorentoe, straat toe. Daar waai ten minste ’n briesie.

Ek geniet Johan se kollega se geselskap. Ons praat oor die Kaap. Hap pizza. Gesels oor mense. Sluk. Stry oor lewenstandaarde. Hap weer. Sluk.

Dié area van Windhoek het heelwat haweloses, wat seker sin maak.

Vir ’n Ludwigsdorf-inwoner om ’n N$50 uit te pluk, is maklik. Die plek is ’n goudmyn vir haweloses.

Meteens kom staan ’n vrou wat vreeslik onder die invloed van iets is by ons tafel.

Sy vra kos. Of iets. Ons was nie seker nie. Dis ’n moeilike situasie. Want wat doen mens nou? In dié stadium is pizza die laaste ding wat sy nodig het.

Toe kom ’n sekuriteitswag vanuit die een hoek en verwyder die vrou asof sy ’n bokssak is.

Ek gebruik juis dié term, want hy het haar op dieselfde manier beetgekry as wat ’n bokser op die vooraand van ’n titelgeveg sou.

Ek kon my oë nie glo nie. Dit het alles so vinnig gebeur dat ek die olyf op my pizza per ongeluk heel ingesluk het.

Binne sekondes is die helfte van die restaurant betrokke en probeer die man van die vrou af kry.

Dis soos ’n movie. Nou kyk, ek weet elke situasie het ’n geskiedenis en ’n groter prentjie, maar niemand het die reg om aan ’n vrou te slaan nie. Veral nie in die openbaar nie. Binne sekondes het die bloed gespat en die ambulans opgedaag.

Wat die situasie toe vererger, is dat die sekuriteitswag nie kon verstaan hoekom twee ander mans hóm beetgekry het nie.

“Hy doen net sy werk,” het iemand van die restaurant genoem. Intussen is die sitausie onder beheer. Soortvan.

Ek kry ’n bitter smaak in die mond.

Ja, die vrou het ons gesteur. Ja, ek verstaan dis ’n probleem vir restauranteienaars. Maar sy was eintlik skadeloos.

En wie’t gesê dis oukei om aan iemand te slaan? Dit was die perfekte voorbeeld van vrouemishandeling.

Meteens land ’n bordjie Jägermeisters op ons tafel. Vier van hulle. Ter versagting. Of iets.

“Vir die ongerief,” sê die kelner.

En toe besef ek die volgende: Ons glo geweld kan alles regmaak.

En as ’n vuis dit nie kan doen nie, is dit drank.

En terloops, ons wag nóú nog vir die ekstra avo en die polisie.

Kommentaar

Republikein 2025-10-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer