Mynbou verseker werk vir duisende
Mynbou verseker werk vir duisende

Mynbou verseker werk vir duisende

Word die totale mynbedryf se direkte, indirekte en tydelike arbeidsmag in ag geneem, het dié sektor verlede jaar werk aan 15 673 mense verskaf.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy - Mynmaatskappye in Namibië het verlede jaar direkte, permanente werksgeleenthede aan 9 143 mense verskaf, 884 of 10,7% meer as in 2015.

Husab se Swakop Uranium en Otjikoto se B2Gold het saam vir 561 nuwe werksgeleenthede gesorg, bykans 64% van nuwe poste wat by dié maatskappye geskep is.

Dié syfers is vervat in die Kamer van Mynwese van Namibië se jaaroorsig vir 2016 wat vandeesweek vrygestel is.

Ander mynmaatskappye waar beduidende werksgeleenthede in 2016 geskep is, is Dundee Precious Metals Tsumeb (64), Debmarine Namibia (58) en Navachab (19).

Maatskappye wat lede van die Kamer van Mynwese is, het verlede jaar in totaal 9 574 permanente werknemers in diens gehad. Dit sluit eksplorasiemaatskappye in. Voorts is 699 tydelike werksgeleenthede en 5 400 werksgeleenthede deur kontrakteurs verseker.

Luidens die oorsig het die mynbousektor die afgelope drie jaar direkte werksgeleenthede geskep wat bogemiddeld is.

Dit het van sowat 16 000 in 2013 tot 19 000 in 2015 gewissel. Verlede jaar, nadat konstruksie aan Swakop Uranium se Husab-myn voltooi is, het die syfer weer tot 16 000 teruggesak.

Ekonomie

Teen heersende pryse het mynbou verlede jaar sowat N$17,7 miljard in Namibië se ekonomie ingepomp.

As sulks het dit ongeveer 11,1%

tot die land se bruto binnelandse produk van sowat N$159,1 miljard bygedra.

Diamante het die meeste waarde toegevoeg met 'n bydrae van sowat N$10,7 miljard teen heersende pryse. Dit is ongeveer 6,7% van die BBP vergeleke met 8% in 2015.

Uraan het vir sowat N$1,47 miljard of 0,9% van die BBP gesorg. In 2015 was uraan se bydrae tot die BBP teen heersende pryse ook 0,9%.

Metaal-erts – goud, koper, sink en lood – het in 2016 bykans

N$4,7 miljard in die ekonomie laat vloei.

As sulks het metaal-erts se BBP-bydrae van 1,9% in 2015 tot 3% verlede jaar gestyg.

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer