Myle gevorder sedert 1990 u2013 Geingob
Myle gevorder sedert 1990 u2013 Geingob

Myle gevorder sedert 1990 – Geingob

Patriotisme en solidariteit is volgens die staatshoof boustene van die nasionale karakter wat die deurslag vir ‘n beter toekoms sal gee.
Dani Booysen
Die stryd om ekonomiese vryheid waarin Namibië gewikkel is, is ernstig en omvangryk, het pres. Hage Geingob tydens die land se 31ste onafhanklikheidsvieringe benadruk.

Elkeen se hulp is nodig om voorspoed te verseker, het die staatshoof herhaal. Daadkragtigheid en tasbare suksesse is volgens Geingob nodig.

‘n Uurlange feesseremonie is Sondag regstreeks vanaf Staatshuis gebeeldsend. Die aantal gaste was beperk ná die fel kritiek ‘n jaar gelede toe ‘n groot fees ondanks die Covid-19-pandemie aangebied is.

Geingob het gesê myle is gevorder sedert 1990 en die land is vandag ‘n “bewonderenswaardige tuiste” vir sy inwoners. “Sonder twyfel het ons ‘n beter Namibië,” het hy gesê; iets waartoe almal volgens die staatshoof bygedra het.

Armoede is volgens Geingob van 70% tot 18% verminder en die aantal studente wat na skool verder studeer, het meer as vernegevoudig. Hy het ronduit ontken die jeug word afgeskeep.

Geingob het homself tot nasiebou en die stryd teen armoede en korrupsie herverbind.

Op 21 Maart 1990 is die fakkel volgens Geingob aangesteek om een nasie onder een vlag saam te snoer. Aan die begin van sy vierde dekade van onafhanklikheid staan Namibië volgens die staatshoof ondanks etlike jare se toenemende uitdagings op die drumpel van nuwe belofte en moontlikhede. “Ek is vol vertroue die toekoms is blink,” het Geingob gesê.

Doeltreffende regering is volgens die staatshoof die grondslag van die vrede, stabiliteit en die oppergesag van die reg in Namibië. Die effektiwiteit sal volgens Geingob verder verbeter word saam met groter aanspreeklikheid en beter dienslewering.

Op Facebook was daar tydens die uitsending boodskappe van geluk en ondersteuning, maar ook kritiek, byvoorbeeld oor die ware omvang van armoede in die land.

Kommentaar

Republikein 2025-10-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer