My hart lu00ea in die Kunenestreek
My hart lu00ea in die Kunenestreek

My hart lê in die Kunenestreek

[email protected]
Tanja Bause
Ek en my vriende het die afgelope paar dae in die Kunenestreek gaan toer. Al wat ek aan Namibiërs kan sê, is as julle nou bietjie geld en tyd het, maak gebruik van die spesiale aanbiedinge. Maak 'n plan om jou land te verken en ander Namibiërs te ontmoet.

Ons uiteindelike bestemming was die Epupa Camp by die valle. Ja, dit is 'n end se ry en dus het ons besluit om die reis op te deel en die eerste nag by die Onjowewe of Filmhouse naby Kamanjab te bly.

Die drieverdieping-houthuis is in rotse ingebou. Daar is alles van beddegoed, handdoeke tot messe, potte, sitkamerbanke, roosters en “shot”-glase. Wanneer jy die trappe na die tweede verdieping met die braai-area, leeshoekies, eetkamerstel en kroeg betree het, voel jy asof jy in 'n fliek is.

Nog 'n stel trappe op en jy is in die boonste kamer met 'n opelugtoilette, stort en bad. Die swembad lyk aanloklik en net wat 'n mens ná so 'n lang pad benodig. Oor die besonderse juweel wil ek nie meer sê nie behalwe mense, as julle die kans kry, maak 'n plan en gaan soontoe.

Die volgende dag is ons Epupa Camp toe en nie net is die kamp besonders nie, die mense wat daar werk, is besonders vriendelik en toe ons drie dae later wegry, het ons gevoel asof ons van familie afskeid neem. Met die tente onder die groot makalani-palms en die sagte geluide van die rivier op jy voorstoep kan jy nie anders as om te ontspan nie.

Ons het met rubberbootjies die rivier afgery met 'n gids met 'n ongelooflike sin vir humor. Hy het die roeispaan langs een van my vriende op die water geklap sodat sy amper van skrik van die boot afgespring het. Met 'n groot glimlag het hy verduidelik dat daar 'n krokodil was vir wie hy op die snoet geklap het. Dit was vir hom so lekker om haar skrik te maak en ons te hoor lag dat hy dit nog drie keer gedoen het.

Aandetes is langs die rivier met kerslig bedien nadat die personeel gesing en dromme gespeel het wat jou laat voel het asof jy die heel belangrikste toeris in die hele wêreld is. Hierdie gevoel het ons al drie dae gehad.

Ek wou graag 'n vis vang en het met my kunsaas probeer. Die Epupa Camp se bestuurder roep toe vir sjef Elizabeth wat die koningin visservrou van die kamp is. Sy wil haarself doodlag vir my kunsvissie. En met haar opgewonde 'plastika vissa' kom almal aangehardloop om te kyk en te lag.

“Nee,” verduidelik sy. Gooi weg. Ons gebruik een hoek en rou vleis. Ek sal vir jou bring.”

Sy sit 'n bak met klein blokkies vleis op die tafel en knik haar kop voordat sy weer verdwyn. Ek sit die vleis aan die hoek en laat sak dit in die water en zap, daar het ek 'n geelvis aan die lyn. Die hele personeel kom uitgehardloop om hande te klap, te jubel en in my vreugde te deel. Ek het vyf van hulle gevang danksy Elizabeth en haar raad.

Epupa Camp het 'n groot stuk van ons almal se hart gesteel en die belofte om weer te kom kuier, is nie een wat te moeilik is om na te kom nie. Dit is 'n moet vir elke Namibiër wat avontuur, natuurskoon, luuksheid, stilte, goeie kos en wonderlike mense wil ervaar en nodig het.

Die laaste aand sou ons ook naby Kamanjab in tente gebly het, maar ongelukkig met ons aankoms by die kamp was niks gereed nie. Selfs die swembad in die rotse waarmee hulle spog was leeg. So ek het nie baie hieroor te sê nie behalwe wat 'n jammerte, want ons het uitgesien na nog 'n unieke en besonderse aand voordat ons die pad terug na die werklikheid moet aanpak.

Kommentaar

Republikein 2025-06-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer