My aaklige NaTIS-ervarings
My aaklige NaTIS-ervarings

My aaklige NaTIS-ervarings

Elizabeth Joseph
Elizabeth Joseph – Jy wonder seker hoekom ek ervarings in plaas van ervaring skryf. Dít is omdat ek op dié spesifieke oggend vir die 6de keer gesit en wag het om my toets vir my leerlingrybewys te skryf.

Jy kan seker my stresvlakke en twyfel in dié stadium voorstel, aangesien ek die toets reeds vyf keer gedruip het. Dit was winter. Ek het reeds Covid-19 op die brein en nou dít!

Ek het verbasend die oggend in ‘n goeie bui opgestaan, alhoewel die angs geknaag het. Soos gewoonlik het ek saam met die res in die ry gestaan. My hande is ontsmet en ek het voor die eksamenlokaal gewag.

Iets was reeds “af” met die eerste NaTIS-fasiliteerder wat ons name uitgeroep het. Hy het op mense begin skree wat nie vining genoeg hulle ID’s uitgehaal het nie, of nie hulle hoede of musse afgehaal het soos hy dit wou hê nie.

In die stadium herinner ek myself om kalm te bly. Ek beweeg tot voor in die ry. Hy kyk na my dokumente en laat my in terwyl hy skree waar ek my sakke moet neersit. Ek wonder waar dié woede vandaan kom.

Ek gaan sit ná ek ook deur sy kollega uitgeskel is. Uit die hoek van my oog sien ek ’n bejaarde man wat sukkel om te verstaan wat van hom verwag word. Ek kan sien die fasiliteerders kom dit ook agter, maar eerder om kalm te bly en rustig te verduidelik, gil hulle net verder op hom. Een vra hom of hy sukkel om te lees en hoe hy dan verwag om die toets deur te kom.

Ek is stomgeslaan. Gewoonlik sou ek teen dié tyd al tot sy verdediging gekom het, maar my opinie het my al soveel keer in die sop laat beland. Dus het ek stilgebly. Dit is glad nie ek nie, maar ek wou so vinnig as moontlik daar uitkom.

Ek merk toe op die potlood wat ek moet gebruik is verskriklik stomp. Dit sou geensins moontlik wees om daarmee te skryf nie. Ek steek my hand op en vra of ek ’n ander potlood of ten minste ’n skerpmaker kan kry. Die man storm na my tafel en skryf met die potlood. “As ek daarmee kan skryf, hoekom kan jy nie?” vra hy.

“Jy sal druip, nie omdat jou potlood stomp is nie, maar omdat jy nie hard genoeg geleer het nie,” sê hy.

In dié stadium kyk ek om my rond, want ek is nog nooit met soveel vyandigheid deur ’n staatsbeampte behandel nie. Ek haal diep asem en vra weer, net voor ons begin skryf.

Die ander persoon verloor haar humeur en skree sy sal nou vir my ‘n skerpmaker bring. “Hoekom moet jy so veeleisend wees?”

Nou het ek genoeg gehad. Ek staan op en sê as haar kollega net van die begin af dieselfde gesê het, in plaas daarvan om geniepsige aanmerkings te maak, sou dit nie vir my nodig gewees het om weer te vra nie.

Hierdie het alles gebeur omdat mense wat veronderstel is om geduldig te wees, of ten minste probeer om te wees, besluit het om ons sonder respek te behandel. Ek verstaan mens is soms in ’n slegte bui, maar ter wille van jou verkose loopbaan vra ek jou om respek aan die mense rondom jou te betoon.

Ek kan met alle grasie en sekerheid sê as ek die toets weer moet skryf, sal dit nié by NaTIS Windhoek wees nie! Ek sal myself nóóit weer in daardie situasie plaas nie.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer