Mwadziwana soek glorie in Namibiu00eb
Mwadziwana soek glorie in Namibiu00eb

Mwadziwana soek glorie in Namibië

Boks
Tielman van Lill
Jesse Jackson Kauraisa

Opgewondenheid oor die MTC Nestor Sunshine-boksbyeenkoms het gister koorsagtige hoogtes bereik ná die aankoms van die uitdagers uit Botswana en Zimbabwe.

Die Zimbabwiese bokser, Tinashe Mwadziwana, het sy teenstander, Matheus “The Beast” Heita, gewaarsku om 'n moeilike nag te verwag wanneer die duo Saterdag by die Kuisebmond-stadion in Walvisbaai deur die toue klim.

Die Pan Afrika-superkapokgewigtitel is op die spel vir The Beast teen die Zimbabwiër wat 30 professionele gevegte agter sy naam het. Mwadziwana is geen vreemdeling in Namibië nie nadat hy 'n paar keer vantevore hier geveg het.

Hy sê hy is gretig om met die titel terug te keer huis toe.

"Ek het gereed en voorbereid vir die geveg gekom omdat ek hard gewerk het. Die Namibiese bokser moet gereed wees vir 'n rowwe nag, want ek wil hierdie een wen.

"Ek nooi alle boksondersteuners om Saterdag na ‘n goeie geveg te gaan kyk en hoe ek julle man pakslae gee," het Mwadziwana vol vertroue gesê.

Heita (23) van die kus, het net ses gevegte op sy getuigskrif. Heelwat minder in vergelyking met die ervare Zimbabwiër se langer loopbaan. The Beast het al ses van sy professionele gevegte gewen.

Daar word verwag 'n groot skare ondersteuners van Walvisbaai sal bankvas agter hom staan. The Beast vertel sy dierlike instinkte het reeds ingeskop en hy is gereed om op die besoeker losgelaat te word.

"Ek het nie veel te sê nie, behalwe om MTC te bedank wat die toernooi moontlik maak. Ek is gereed om op te eis wat aan my behoort.

"Ek wil graag my ondersteuners uitnooi om in groot getalle op te daag. Ek weet hierdie geveg gaan deure vir my oopmaak en daarom weet ek, ek sal die oorwinnaar wees," het Heita gesê.

Gegewe sy dapperheid en boksvaardighede word Heita deur Nestor Tobias, sy promotor, as die volgende groot bokser van Namibië bestempel.

Tobias is opgewonde oor die hoofgeveg waar The Beast in aksie sal wees. Die gesoute promotor sê hy verwag vuurwerke van sy boksers.

Die bonanza sal tien ander gevegte bied wat drie nasionale titelgevegte insluit.

Adreas Mwenyo sal teen Lasarus Namalambo vir die nasionale kapokgewigtitel veg, terwyl Martin Mukungu met Immanuel Jason vir die nasionale veergewigtitel in die kryt klim.

Joseph Abel en Phillipus Shaanika sal houe in 'n superkapokgewiggeveg wissel. Max Ipinge en Tinashe Zihove se internasionale supermiddelgewiggeveg oor ses rondes beloof vuurwerke. Die belangrikste voorgeveg sal tussen Natanael Sebastianus en Botswana se Steven “Cakie” Bagwasi wees.

Tobias het gesê: “Ek wil MTC bedank, want dit verg baie om ‘n toernooi van die formaat te reël. Dit is nie maklik nie, maar ons het daarin geslaag om boksers van buite te bring om deel van hierdie bonanza te wees.

"Heita is 'n uitsonderlike talent en 'n geheime wapen. Al die ander gevegte op die program sal ook van topgehalte wees.”

Kaartjies sal by Computicket en op Walvisbaai se strate te koop wees. Kinders betaal N$20 en volwassenes N$50. Kaartjies vir ‘n VIP-tafel kos N$200. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer