Mutorwa tik raadslede op vingers
Mutorwa tik raadslede op vingers

Mutorwa tik raadslede op vingers

Maria Eiseb
Die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, het onlangs, tydens die bekendmaking van die Paaieowerheid (RA) se strategiese plan, gesê ondernemings se raadslede moet in die algemeen beter met die bestuur van dié betrokke ondernemings saamwerk.

Hy sê raadslede versuim dikwels hul plig weens onderlinge misverstande en kwessies wat nie opgelos word nie.

“Die werk word nie gedoen nie, en dit help nie julle dank mekaar af terwyl daar kwessies is wat nie opgelos word nie,” het hy gesê.

Hy het raadslede en die bestuur van ondernemings aangemoedig om mekaar te ondersteun sodat goeie diens gelewer kan word.

Mutorwa het voorts gesê samewerking en gesonde kommunikasie is belangrik, en dat maatskappye moet beplan om te slaag en nie om te misluk nie.

“Sommige maatskappye beplan sleg. Dit is 'n sonde om te misluk as jy iets beplan het,” het die minister gesê.

Volgens Mutorwa moet beplanning vir paaie veral die land se geskiedkundige en ekonomiese agtergrond in ag neem.

Mutorwa het gevra of TransNamib planne het met die oog op die opknapping van treinspore landswyd.

“Moenie wag tot die begroting geteken is nie – as dit geteken is, moet julle reeds aksie begin neem,” het hy gesê.

“Al is die geld min, doen ten minste iets om 'n verandering mee te bring,” het hy bygevoeg.

By dieselfde geleentheid het mnr. Conrad Lutombi, die RA se uitvoerende hoof, die veiligheid van paaie verseker.

“As ons niks omtrent padveiligheid doen nie, sal ons daarvoor verantwoordelik gehou word,” het hy gesê.

Volgens Lutombi is die Namibiese Verkeersinligtingstelsel (NaTIS) se kliëntediens bevredigend.

Hy het belanghebbers en die regering versoek om die RA te ondersteun.

Kommentaar

Republikein 2025-09-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer