Mushelenga knor oor Kahimise

’n Tussentydse baas is gister vir die Windhoekse stadsraad (CoW) vir drie maande aangewys.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, dr. Peya Mushelenga, ontken Windhoek se uitvoerende hoof, mnr. Robert Kahimise, is wéér geskors.

Mushelenga het gisteroggend by navraag gesê die afgelope week se verwikkelinge is “geen tweede skorsing nie”.

Ál wat Maandag gebeur het, is dat ’n verkeerd bewoorde brief reggestel is, voer hy bondig via WhatsApp aan.

“Daar is geen tweede skorsing nie. Slegs ’n verkeerd bewoorde brief is teruggetrek en met ’n reg bewoorde brief vervang. Die vraag is dus nie van toepassing nie.”

Republikein wou by die minister weet of Maandag se arbeidsoptrede in oorleg met Mushelenga se goedkeuring plaasgevind het.

Mushelenga is ook gevra wat dié wending genoodsaak het indien hy daartoe ingestem het.

Kahimise het gister gesê hy wil nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie.

“Ek dink nie dit is die regte tyd nie.”

Hy het wel bevestig hy het sy kantoor ontruim en dat hy sonder vergoeding geskors is.

Vroeër is berig hy is weens beweerde ongerymdhede, wat met ’n studielening verband hou, in die pad gesteek.

CoW het intussen by monde van sy adjunkburgemeester, me. Teckla Tala Uwanga, aangekondig mnr. Ludwig Narib neem sedert gister waar as tussentydse uitvoerende hoof by dié beleërde munisipaliteit.

Narib is die strategiese uitvoerende hoof gelas met infrastruktuur, water en tegniese dienste.

Volgens Uwanga se verklaring is Kahimise se skorsing reeds sedert die afgelope Maandag van krag.

Dit sal glo drie maande duur, sê sy.

“Die skorsing is genoodsaak deur die behoefte om ’n onbelemmerde ondersoek te gelas na bewerings oor erge skendings van korporatiewe bestuur wat teen die uitvoerende hoof gemaak word.”

CoW moes onlangs druipstert Kahimise se vorige skorsing ophef, nadat mnr. Patrick Kauta, sy prokureur, hulle ingelig het dié stap was onwettig.

Uwanga het gister gesê dit is belangrik om te benadruk die jongste skorsing is geen strafmaatreël vir enige oortreding nie.

Volgens haar is dit ’n administratiewe reëling om te verseker die ondersoek verloop vlot.

Mushelenga het onlangs aan Republikein gesê hy het dokumente van die raad “deeglik gelees” en gevolglik besluit om vir Kahimise toe te skors.

Dié besluit is geneem kragtens die “waardes van deursigtigheid en goeie bestuur”, het die minister gesê.

Drie raadslede, mnr. Ignatius Semba van die Popular Democratic Movement (PDM), me. Brunhilde Cornelius van die Rally for Democracy and Progress (PDM), en Nudo se mnr. Josef Kauandenge, het voor die aanvanklike skorsing ’n lys van beweerde ongerymdhede teen hul kollegas onder Mushelenga se aandag gebring.

Daarin voer dié drietal aan Kahimise is die slagoffer van ’n heksejag met ’n ondertoon van stamgebondenheid.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer