Mugabe (92) staan wéér vir president

Mugabe en sy vrou, Grace, het 5 kg rys geskenk aan elke persoon wat Saterdag se konferensie bygewoon het.
Jo-Mare Duddy Booysen
Dis het einde niet vir pres. Robert Mugabe van Zimbabwe.

Zanu-PF, die land se regerende party, het Saterdag aangekondig Mugabe is sy kandidaat in die nasionale verkiesing in 2018, berig Associated Press (AP).

Mugabe word 93 jaar oud in Februarie 2017.

Zanu-PF het die aankondiging gedoen in die dorp Masvingo in die suidooste van Zimbabwe waar die party se jeugliga voorgestel het dat Mugabe lewenslank en met breë magte behoort te heers, berig AP.

Opposisiegroepe het hierop gesê Mugabe en sy aanhangers is nie in voeling met die desperaatheid van ‘n volk wat ly onder massiewe werkloosheid, kontant-tekort en die sluiting van maatskappye nie.

Mugabe het wel erken dat sekere mense in Zanu-PF wil hê hy moet as president bedank.

“Kom ons hou op om met mekaar te baklei,” het hy gesê oor die binnegevegte oor of iemand anders hom moet opvolg.

Mugabe is aan bewind sedert Zimbabwe se onafhanklikheid van wit heerskappy in 1980.

Op Zanu-PF se jaarlikse konferensie het spreker ná spreker Mugabe se lof besing.

Supa Mandiwanzira, Zimbabwiese minister van inligtingstegnologie, het gesê: “Ek is nie super nie, meneer die president. Dit is u wat super is.”

Kudzai Chipanga, leier van Zanu-PF se jeugvleuel, het voorgestel dat Mugabe se identiteitsdokument en geboortesertifikaat gewysig moet word sodat dit lui “President Robert Mugabe”.

News24 se korrespondent in Harare het berig talle Zimbabwiërs word deur ‘n Kersfees van geld- en kostekort in die gesig gestaar. Hierteenoor het Mugabe gesê Zanu-PF se konferensie-afgevaardigdes behoort hul kinders ‘n goeie Kerstyd te gee.

Minstens 7 000 Zanu-PF-afgevaardigdes het opgeruk na die konferensie in Masvingo.

Mugabe het Saterdagmiddag in ‘n toespraak, waartydens hy dikwels moeg gelyk het, gesê: “Doen wat julle kan om jul kinders gelukkig te maak, hetsy julle in die dorp of in ‘n plattelandse huis is.”

Mugabe en sy vrou, Grace, het 5 kg rys geskenk aan elke persoon wat die konferensie bygewoon het. Rys en hoender is die tradisonele Kerskos in Zimbabwe.

Senior vroulike lede van die Zanu-PF-politburo en sentrale komitee het glo elk ‘n stuk nuwe materiaal gekry met ‘n afbeelding van Mugabe se gesig daarop. Dit is ontwerp deur Grace.

Die afgevaardigdes het gesmul aan die vleis van 50 beeste en ander kos wat geskenk is vir dié byeenkoms wat sowat 4 miljoen Amerikaanse dollar gekos het.

Intussen het onderwysers wat vir die staat werk, gehoor hulle gaan hul salarisse eers op 28 Desember kry. – Netwerk24/AP

Kommentaar

Republikein 2025-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer