MTN erken hy moet sokkies optrek
Niel Joubert - MTN het Vrydag erken hy sal sy sokkies moet optrek om sy klante, en aandeelhouers, gelukkig te hou.
Daar is belangrike bedryfsprobleme waarna MTN moet kyk en wat opgelos moet word, het Phuthuma Nhleko, uitvoerende voorsitter van die maatskappy, met die bekendstelling van die resultate vir die ses maande tot einde Junie gesê.
“Tye het aanbeweeg en ons moet opvang,” het Nhleko gesê. Hy het na dié sesmaandetydperk verwys as “waarskynlik die moeilikste” in die maatskappy se 22-jarige bestaan.
Verskeie probleme het die “perfekte storm” veroorsaak en daartoe gelei dat MTN sy eerste verlies as genoteerde maatskappy bekend gemaak het.
MTN het ’n wesensverlies van R4,9 miljard of 271c per aandeel vir die tydperk gely, vergeleke met wesensverdienste van R12 miljard ’n jaar gelede. Die verlies was grootliks weens die Nigeriese boete, wat sy verdienste met 474c per aandeel verminder het.
As die impak van die boete, hiperinflasie, wisselkoersverliese en ander eenmalige items egter uitgelaat word, het die wesensverdienste steeds gedaal, met 11,7%, maar dit was minstens positief op 594c per aandeel.
MTN se getal intekenare het ook nie gegroei nie en was basies dieselfde op 232,6 miljoen teen die einde van Junie vergeleke met einde Desember 2015. Hy verwag ook nou om minder intekenare by te voeg as wat hy voorheen verwag het.
Nhleko het gesê die maatskappy gaan ’n “diep en fundamentele strategiese hersiening van bedrywighede en prosesse doen wat nodig is om seker te maak die groep word baie meer optimaal bedryf”.
Dit was egter nie net Nigerië, waar Nhleko sê “die probleme verby is”, wat die maatskappy hoofbrekens besorg nie. In Suid-Afrika het MTN ook swakker gevaar in die tydperk en het hy intekenare verloor. Die getal intekenare het met 2,6% tot 29,8 miljoen afgeneem.
MTN se vertoning is verder geraak “deur aggressiewe prysmededinging en onderprestasie van MTN Suid-Afrika”, lui MTN se resultate.
Nhleko het egter gesê hy verwag ’n beter vertoning die res van die jaar vanweë ’n “sterk fokus op kliëntediens en die verbetering van sy netwerk se kwaliteit, vermoë en spoed”.
Mteto Nyati, uitvoerende hoof van MTN in Suid-Afrika, sê MTN se netwerk het “gesukkel” aan die begin van die jaar, maar dat hulle ’n “eerlike kyk na die netwerk gehad het”. ’n Onafhanlike party is ook ingeroep en die beoordeling was dat “sommige dinge goed is, maar daar is baie ‘lelike’ dinge ook”, het Nyati gesê.
Hulle fokus is nou daarop om die netwerk te verbeter en hulle het ’n “aggressiewe plan om MTN na die volgende vlak te neem” en hom te onderskei van sy mededingers.
MTN het ook sy dividend met amper die helfte verminder en ’n tussentydse dividend van 250c per aandeel verklaar. Volgens MTN is die verwagting steeds dat die minimum dividend vir die volle jaar R7 per aandeel sal wees. ’n Hoër dividend is egter ’n moontlik, “sou bedryfstoestande wesenlik verbeter”. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie