Mouton-vonnis: N$15 000 of drie jaar

'n Jong man wat in die landdroshof op strafbare manslag skuldig bevind is se vonnisop­legging het gister plaasgevind.
NAMPA
'n Windhoeker wat daaraan skuldig bevind is dat hy 'n polisiebeampte en nog twee mense in 2015 doodgery het, is gister tot drie jaar tronkstraf of 'n boete van N$15 000 gevonnis.

Landdros Leopold Hangalo het die 23-jarige Morné Mouton in die Windhoekse streekhof gevonnis nadat hy die dood van sersant Manfred Gaoseb, mnre. Werner Simon en Joshua Ngenokesho op 4 Julie 2015 veroorsaak het.

Hy het Mouton ook 'n bykomende vier jaar tronkstraf opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie in dié tyd dieselfde oortreding begaan nie.

Die hof het gesê dit betoon genade aan Mouton met die vonnisoplegging, terwyl sy persoonlike omstandighede, die erns van die saak asook die belang van die gemeenskap in ag neem is.

Dit is Mouton se eerste oortreding en hy het dit nie vooraf beplan nie, het die hof beslis.

Mouton is aanvanklik ook aangekla dat hy 'n motor onder die invloed van alkohol bestuur het, asook van roekelose en nalatige bestuur, maar is later op dié klagte vrygespreek.

Hy het onskuldig op alle klagte gepleit nadat sy saak op 24 Julie 2018 in die Windhoekse landdroshof begin het.

Sy regsverteenwoordiger was mnr. Ndeli Ndaitwah, terwyl me. Laura Mabuku die staat se saak behartig het.

- Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer