Mouton-saak: Bloedtoets kern van verweer

Die prokureur van die man wat van drie mense se dood beskuldig word, voer aan 'n bewysstuk is gekompromitteer.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – In die verhoor van mnr. Morné Mouton het sy regsverteenwoordiger, mnr. Sisa Namandje, Vrydag gefokus op die bloedtoets wat van die beskuldigde op die ongelukstoneel geneem is, en die polisie se hantering van dié toets totdat dit by ’n forensiese laboratorium ingehandig is.

Mouton staan tereg op klagte van strafbare manslag, bestuur onder die invloed van sterk drank en/of dwelms met ’n narkotiese uitwerking, asook roekelose bestuur. Dié klagte spruit uit ’n motorongeluk wat in die vroeë oggendure op 4 Julie 2015 in Sam Nujoma-rylaan in Hochland Park plaasgevind het.

Die oorledenes was ’n beampte van die stadspolisie, konstabel Manfred Gaoseb (35), mnr. Werner Simon (22) en mnr. Joshua Ngenokesho.

Verkeersbeampte Albertina Nelonga het aan landdros Vanessa Stanley in die Windhoek-landdroshof vertel dat sy in die vroeë oggendure van 4 Julie 2015 na die ongelukstoneel ontbied is waar sy ’n bloedmonster van Mouton geneem het. Sy het getuig dat sy die monster om 03:00 aan verkeersbeampte Kautja Tjingorori oorhandig het. Tjingorori het hierdie bloedmonster saam met Mouton na die Windhoek -staatshospitaal geneem.

“Die saak wat ons probeer uitmaak, is dat die polisie bedrog gepleeg het deur verklarings te manipuleer,” het Namandje gedurende kruisverhoor aan Nelonga gestel. Hy het voorts aan Nelonga uitgewys dat die verklaring wat sy op 14 Julie 2015 afgelê het, eers op 6 Desember 2016 voor ’n kommissaris van ede beëdig is. Nelonga het gesê toe sy dit aanvanklik onderteken het, was dit nie volgens “hofvereistes” beëdig nie. Sy het verder getuig: “Hy (sersant Cleophas) het my gebel en gevra dat ek teken – hy het gesê die hof het hom gevra.”

Nelonga het aan die hof vertel die inhoud van die verklaring het dieselfde gebly, maar dat sy dit net op 6 Desember 2016 weer beëdig het.

Sy het nie saamgestem nie met Namandje se stelling dat “julle mense behoort nie vertrou te word nie, julle is bedrieglike polisiebeamptes. Julle speel met getuienis.”

Uit getuienis voor die hof blyk dit Mouton se verseëlde bloedmonster is na die Katutura-staatshospitaal geneem waar dit deur ’n mediese dokter herverseël is. Die monster is dieselfde oggend by die polisiekantoor in ’n kluis geplaas en die reeksnommer in die gevalleboek aangeteken.

Konstabel Antonius Nangala, verbonde aan Nampol se noodreaksie-eenheid, het Vrydag getuig dat hy die monster op 4 Augustus 2014, ’n maand ná die ongeluk, ontvang het. Hy het gesê hy het dit in ’n stoorkamer naby sy kantoor by ’n temperatuur van onder 25 ºC gehou en die volgende dag na die forensiese laboratorium vir ontleding geneem. Volgens hom was die monster verseël en indien daar enigsins mee gepeuter was, sou die owerhede daarvan verwittig gewees het.

Namanje het dit aan Nangala gestel dat dit geen sin maak om ’n bloedmonster vir ’n maand in ’n kluis sonder temperatuurbeheer te stoor en dan vir ’n dag lank in ’n koel kamer te hou nie.

“Vanuit ’n ondersoekoogpunt moet daar ’n duidelike oudit wees van wat gebeur het,” het hy gesê.

Die verhoor sal op 16 April voortgaan.

Kommentaar

Republikein 2025-07-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer