Motorbomme eis minstens 7
Motorbomme eis minstens 7

Motorbomme eis minstens 7

Drie motorbomme het Sondag in Damaskus ontplof en die lewe van minstens sewe mense geëis.
Selfmoordbomaanvallers het die Siriese hoofstad, Damaskus, Sondag die eerste keer sedert die Djihadiste se aanvalle in Maart vanjaar geteiken.
Volgens die staatsmedia het veiligheidsmagte die militante daarvan weerhou om hul teikens te bereik, wat tot meer sterftes sou lei.
Amptenare het aan die staatsbeheerde TV-diens gesê dat diegene wat vir die motorbomme verantwoordelik was, bedoel het om besige gebiede te teiken op die eerste dag terug by die werk ná die Eid al-Fitr-vakansie.
Niemand het onmiddellik skuld vir die aanvalle erken nie.
Damaskus is ook in Maart deur selfmoordbomaanvalle getref – een waarvoor die Islamitiese Staat-groep (IS) verantwoording geneem het en die ander deur die Islamitiese opstandige alliansie Tahrir al-Sjam.
Die sterftes in Sondag se aanval was toe een van die bomplanters sy toestel laat afgaan het nadat hy naby die Ou Stad in die distrik van Bab Toema omsingel is. 'n Polisiebeampte op die toneel sê sewe mense is dood en 13 is in die aanval beseer.
Die ander twee motorbomme is deur die owerhede vernietig, het die staatsmedia bekend gemaak.
Mohamad Kheir Ismail, Damaskus se polisiehoof, het in 'n telefoniese onderhoud met die TV-stasie Al-Ekhbaria gesê die voertuie van die bomplanters is op 'n hoofweg opgemerk en gevolg. Hy sê die selfmoordbomaanvallers se plan was om 'n groot getal ongevalle te veroorsaak, maar hulle het jammerlik misluk.
Volgens beeldmateriaal wat deur die TV-stasie van die ontploffingstoneel naby die Ou Stad af gebeeldsend is, wys dit paaie wat in puin lê, ver­skeie beskadigde voertuie en een voertuig waarvan net 'n hoop verwronge skrootmetaal oorgebly het.
Beeldmateriaal van 'n ander toneel waar ook 'n bomontploffing was, toon oorblyfsels van wat 'n mens kon gewees het en erg beskadigde voertuie buite 'n moskee in die Baitara-verkeersirkel naby die Ou Stad. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer