Moratorium op sloping van Katima Mulilo-huise
Moratorium op sloping van Katima Mulilo-huise

Moratorium op sloping van Katima Mulilo-huise

Die minister van landelike en stedelike ontwikkeling het in die Nasionale Vergadering gereageer op die sloping van onwettige huise op Katima Mulilo.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die dorpsraad van Katima Mulilo het tydens 'n besoek van die minister van landelike en stedelike ontwikkeling, me. Sophia Shaningwa, aan die dorp besluit om 'n moratorium te plaas op die sloping van eiendomme wat grondbesetters onwettig op munisipale grond opgerig het.

Shaningwa het in die Nasionale Vergadering by wyse van 'n ministeriële verklaring erken dat die dorpsraad nadat 'n besluit geneem is om die strukture te sloop, nie 'n hofbevel verkry het nie.

Die minister het op 8 Oktober na Katima Mulilo gereis om self vas te stel wat gebeur het. Sy het op 9 Oktober met streek- en plaaslike owerhede samesprekings gevoer. Shaningwa sê die vergadering is in 'n goeie gees gehou.

"Onwettige grondbesetting kom wyd in Katima Muliko voor. Die besluit van die raad om die onwettige strukture te sloop, was 'n poging om wet en orde te herstel," het sy gesê.

Shaningwa het die sogenaamde grondgrypers in verskillende katagorie geïdentifiseer naamlik mense wat grond wettiglik bekom het en dit toe verkoop het; staatsamptenare wat huise het en dit uitverhuur en verkies om grond te gryp; mense wat van elders in Namibië gemigreer het en hulle op Katima Mulilo gevestig het asook buitelanders van buurstate wat hulle daar gevestig het.

Verskeie besluite is tydens die vergadering van die minister met die dorpsraad geneem. Die leierskap stem saam dat grondgrypery moet end kry en voorkom moet word. Mense moet aan die land se wette gehoor gee. Voorts moet die raad vergaderings in verskillende gebiede hou om inligtingsessies te aan te bied oor onder meer die korrekte prosedure om aansoek te doen vir grond.

Daar is ook voorgestel dat 'n sentrum geskep word om diegene wat van elders kom, te ontvang en hulle te registreer sodat grond aan hulle toegeken kan word waar hulle hulself wettig kan vestig.

Tydens die vergadering het die dorpsraad ook aangedui dat openbare-private-vennootskappe (PPP's) met verskeie instansies aangegaan is om grond te diens en te ontwikkel.

"Die gemeenskap moet die dorpsraad toelaat om voort te gaan met die diens van grond en die voorsiening van behoorlike behuising," het Shaningwa gesê.

Sy het daarop gewys dat enige stuk grond in landelike, stedelike of kommunale gebiede die verantwoordelikheid van hetsy plaslike owerhede of tradisionele owerhede is wat dit moet toeken.

"Ek het simpatie met mense wat huise verloor het, maar ons moet gehoor gee aan die landswette," het sy gesê.

Shaningwa sê dit is jammer dat dit situasie verpolitiseer word. Sy sê ook foto's van 'n stootskraper wat aan die brand gesteek is, en vrou wat beserings in sloping opgedoen het, is vals asook gerugte dat 'n persoon dood is. Sy sê dit is daaropp gemik om verwarring en verdeeldheid te saai.

"Al het ek simpatie met mense wat hul huise verloor het, moet ons die dorpsraad tyd gun om op prokureursbriewe te reageer," het Shaningwa gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-07-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer