Moontlike vrae aan Trump uitgelek
Moontlike vrae aan Trump uitgelek

Moontlike vrae aan Trump uitgelek

Die net van die spesiale ondersoekbeampte na Russiese inmenging in die 2016-verkie­sing span al hoe stywer.
NAMPA
Pres. Donald Trump van Amerika het Dinsdag te velde getrek teen die “skandelike” uitlek van vrae wat moontlik deur die spesiale ondersoekbeampte Robert Mueller gevra kan word.

Die vrae handel oor moontlike dwarsboming van die gereg en ander kwessies rakende die ondersoek na Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesing van 2016.

Uit die vrae blyk dit Trump kan gevra word of hy probeer het om die Russiese ondersoek in die wiele te ry, berig The New York Times.

Met die minstens 24 vrae wil uitgevind word of Trump bewus was van kontak tussen lede van sy presidensiële verkiesingsveldtogspan en Rusland, waaronder 'n vergadering in Junie 2016 in Trump Tower waar 'n Russiese regsgeleerde aangebied het om met verdoemende inligting oor Hillary Clinton vorendag te kom.

"Dit sou moeilik wees om dwarsboming van die gereg te bewys vir 'n misdaad wat nooit plaasgevind het nie! Heksejag!” het Trump in 'n vroeg­oggend-twiet laat weet.

Trump het verkeerdelik aangevoer daar is geen vrae op die lys oor same­swering nie. Hy het dit as “opgemaakte, vals misdade” afgemaak.

In een van die vrae wat aan Trump gerig word, word gevra of sy helpers tydens die verkiesingsveldtog, onder wie die voorsitter, Paul Manafort, Russiese bystand gesoek het, berig The Times.

“Watter kennis het u gedra van enige uitreiking deur u verkiesingsveldtog, insluitende Paul Manafort, na Rusland vir potensiële bystand met die verkiesingsveldtog,” lui die vraag.

Trump sal ook moet sê of hy reeds 'n presidensiële verskoning aan sy voormalige veiligheidsraadgewer, Michael Flynn, aangebied het.

Flynn is reeds daarvan aangekla dat hy aan ondersoekbeamptes gelieg het en werk nou oënskynlik saam met die ­ondersoekspan.

The Washington Post het laat Dinsdag berig dat Mueller vroeg in Maart aan Trump se regspan gesê het dat hulle 'n lasbrief kan uitreik om Trump te dwing om voor 'n seniorregsbank te getuig indien hy weier om deur federale ondersoek­beamptes ondervra te word.

The Post sê ná hierdie gesprek het Trump se regsgeleerde, Jay Sekulow, 'n lys van 49 vrae opgestel wat moont­lik aan die president gevra kan word. Dit is hierdie lys wat Dinsdag deur The Times gepubliseer is.

Die koerant berig dat Mueller se span die vrae telefonies aan Trump se regspan voorgelees het, wat die lys daarvolgens opgestel het. – Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2025-09-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer