Moody's: Politici maak SA ekonomie seer
Die kredietgradeerder voorspel groei van 1,1% vir die buurland in 2017.
Hanlie Stadler
Suid-Afrika sloer met die strukturele knelpunte wat ekonomiese groei aan bande lê.
So sê Zuzana Brixiova, senior ontleder van Moody's Investors Service, in 'n nuwe verslag oor die plaaslike ekonomie.
Ondanks uitdagings soos 'n hoë werkloosheidsyfer, veral onder jong mense, groeiende staatskuld en politieke spanning, wat hervorming bemoeilik, klink die kredietgradeerder betreklik positief dat die plaaslike ekonomie verbeter.
Moody's het in November besluit om geen aankondiging oor Suid-Afrika se kredietgradering te doen nie, wat beteken die land is steeds twee vlakke bo rommelstatus, maar met 'n negatiewe vooruitsig vir sowel staatskuld in rand as in buitelandse geldeenhede.
Die kredietgradeerder se volgende graderingsbesluit word in Mei verwag.
In die verslag loof Brixiova Suid-Afrika se sterk finansiële markte en instellings soos die tesourie, regbank en die Reserwebank.
Die land is egter vasgevang in 'n “middelinkomstestrik” weens trae groei, wat werkskepping smoor. Die vlakke van staatskuld is ook aan die versleg.
Moody's voorspel dat die ekonomie geleidelik vinniger sal groei. Vir 2017 word groei van 1,1% voorspel en vir 2018 1,7%. Die voorspelling vir vanjaar is dieselfde as die Reserwebank se verwagting op 24 Januarie, maar die sentrale bank verwag slegs 1,6% vir 2018.
Moody's grond sy groeiverwagting op “die vernouing van die kragvoorsieningsgaping en tekens van hervorming in arbeidsverhoudinge”.
Inkomsteongelykhede bly 'n enorme uitdaging.
“Ondanks vordering om miljoene mense uit absolute armoede op te hef, was die ontwikkeling van 'n swart middelklas beperk.
“Hoë en langtermynwerkloosheid, veral onder jong mense, weerspieël die verdeelde samelewing en uitsluiting. Hoë ongelykheid, MIV-vlakke en kinder- en moedersterftes verswak ook die land se menslike kapitaal en produktiewe basis.”
Die tesourie en Reserwebank kry lof vir sy “samehangende” makro-ekonomiese en monetêre beleid “wat op bewyse gegrond is, goed gekoördineer word en geloofwaardig is”.
“Voortslepende politieke binnegevegte het egter beleidsonsekerheid geskep en konsensus verhinder oor van die belangrikste strukturele hervormings, veral van staatsondernemings. Dit het beleggersvertroue verlaag en 'n benadering van kom-ons-kyk-eers tot investering geskep.”
Moody's merk wel die nuwe direksies by die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Poskantoor op. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie