Moody’s maak ekonome swartgallig

16 April 2019 | Ekonomie
Elvira Wood - Die kredietgradeerder Moody’s Investors Service het nou wel nie Suid-Afrika se kredietgradering tot onder beleggingsgraad verlaag nie, maar dit het nie gehelp om ekonome meer positief oor die ekonomie te maak nie.

Inteendeel, die 38 ekonome wat aan die Ekonoom van die Jaar-kompetisie deelneem, het hul vooruitsigte vir die ekonomie weer eens laer aangepas.

Hulle konsensusvoorspelling vir ekonomiese groei is nou net 1,14% in 2019.

In Maart het hulle nog groei van 1,27% voorspel.

Dit is selfs laer as wat die tesourie (1,5%), die Reserwebank (1,3%), die Internasionale Monetêre Fonds (1,2%) en die kredietgradeerders Moody’s (1,3%) en Standard & Poor’s Global Ratings (1,6%) voorspel.

Die standaardafwyking op dié voorspelling is ’n skamele 0,34, wat wys ekonome stem saam oor dié lae groeivooruitsig.

Die ekonome wat aan Netwerk24, Beeld, Die Burger, Rapport en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-kompetisie deelneem, moet elke maand voorspellings oor 14 ekonomiese veranderlikes maak.

GOEIE RIGLYN

Dit gee ’n goeie riglyn van wat in die ekonomie kan gebeur en verbruikers en sakeondernemings kan dit in hul beplanning gebruik.

Dié maand het ekonome tyd gehad tot nadat Moody’s sy jongste besluit oor Suid-Afrika se kredietgradering op 30 Maart bekend gemaak het. Die meeste van hulle het besluit om eers vir dié aankondiging te wag voordat hulle hul nuwe voorspellings ingedien het.

Moody’s het Suid-Afrika se gradering onveranderd op Baa3 met ’n stabiele vooruitsig gelos. Dit is steeds een vlak bó beleggingsgraad.

Buiten vir ekonomiese groei, het ekonome ook ander aanpassings gemaak wat ’n groeiende pessimisme oor die ekonomie weerspieël.

Die nuwe voorspellings is:

· Rand-dollar-wisselkoers – van R13,92 (konsensus in Maart) tot R14,06 (konsensus in April) (0,56 –standaardafwyking);

· Rand-euro-wisselkoers – van R15,96 tot R16,04 (0,52);

· Goudprys – van US$1 316,78/fynons tot US$1 314,83/fynons (68,96);

· Platinumprys – van US$863,29/ons tot US$875,73/ons (67,45);

· Inflasiekoers – van 4,93% tot 4,91% (0,35); en

· Olieprys – van US$65,26/vat tot US$66,47/vat (3,36).

Ekonome het hul vooruitsig vir die prima rentekoers effens hoër tot 10,34% aangepas. Dit was 10,31% in Februarie en Maart.

Ekonome het steeds wyd uiteenlopende verwagtinge oor die tekort op die lopende rekening.

Die konsensusvoorspelling is nou ’n tekort van R165,71 miljard. Dit is teenoor die R170,20 miljard wat hulle in Maart en die R174,65 miljard wat hulle in Februarie voorspel het.

Die standaardafwyking is egter 24,81.

Die grootste tekort wat ’n ekonoom nou verwag is R218,6 miljard teenoor die tekort van R238 miljard wat ’n ekonoom in Maart verwag het.

Die laagste verwagting in April is R103 miljard. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Geld rol vir ramp

9 ure gelede | Regering

Jo-Maré Duddy – Die regering se N$8-miljardvoorskrif teen die ekonomie se Covid-koors is gister deur ekonome verwelkom, veral omdat dit amptelik as die eerste fase...

Baba jongste Covid-19-geval

9 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - ’n Nege maande oue baba is saam met sy pa die nuutste twee gevalle van Covid-19 in Namibië. Dit bring die nasionale...

Só werk landbou in inperkingstyd

9 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh - Tydens die inperkingstyd mag naweekboere nie heen en weer vanaf hul plase en wonings in dorpe beweeg nie. Voltydse boere en plaaswerkers...

NMH skenk toerusting, kospakkies vir padblokkades

9 ure gelede | Gesondheid

In ’n poging om die vinnige vloei van noodsaaklike vragverkeer by die vier padblokkades na die Khomasstreek te bewerkstellig, het Namibia Media Holdings (NMH) gister...

Noodtoestand: ‘Niks is normaal’

9 ure gelede | Regering

Denver Kisting - Me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, sê Namibiërs bevind hulle midde-in ’n buitengewone situasie. “Ons is in ’n noodtoestand. So, niks...

Weer vir 2 April 2020

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Mooi weer en baie warm in die Weste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele donderbuie in die...

Pandemie slaan toerismebedryf hard

9 ure gelede | Toerisme

Francoise Steynberg - Die toerismebedryf gaan heel waarskynlik die hardste deur die Covid-19-pandemie getref word. Só sê die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië...

Fishrot-hokaairoeper glo gedreig, vergiftig

9 ure gelede | Misdaad

Catherine Sasman – Mnr. Jóhannes Stefánsson, hokaairoeper in die internasionale korrupsieskandaal, oftewel die Fishrot-sage, het aan Yslandse verslaggewers gesê hy is al verskeie kere vergiftig...

Fitch gradeer SA banke verder in rommel in

9 ure gelede | Afrika

Nellie Brand-Jonker - Fitch het die vyf groot banke van Suid-Afrika naamlik Absa, FirstRand, Investec, Nedbank en Standard Bank verder in rommel afgradeer.Alle nasionale langtermyngraderings...