Moerbei-entstof vir Oktoberitus
Moer(igheid) en buie is in oorvloed vandeesmaand. Dis mos nie verniet Oktober nie en nog boonop Oktober 2020.
Elke jaar klokslag kom krap Oktober als deurmekaar, torring Leipoldt se mooiste, mooiste maand aan die bietjie gesonde verstand en krag wat Namibiërs ná ‘n lang jaar oor het.
Vir Namibiërs beteken Oktobermaand nie viooltjies in die voorhuis nie. Ons het moerbuie in die voorhuis, moerbuie blou en rooi!
G’n wonder ons noem dit Oktoberitus nie: Dié kop- en hartgriep slurp ons laaste skeut energie op, maak berge van molshoppe, laat ons emosies wipwaentjie ry en verweer ons reeds wankelrige selfbeeld.
Vanjaar sukkel ons met ’n dubbeldosis: Ons toets positief vir Oktoberitus én Covid-19. Die gelukkiges kon tot dusver die virus ontglip, maar die impak van die wêreldpandemie het ons almal stewig in sy greep.
Almal is in ’n moerbui.
Met my moerbui en al vat ek die appelliefie van my oog, my driejarige kleinseun, Vrydag kwekery toe om te gaan speel.
Blind van my Oktoberituscovid verstaan ek nie die uitgelate gejubel onder ’n boom nie. Dis eers toe klein Brian blinkoog met ’n handvol moerbeie voor my staan, dat my moerbui en sy Covid-maatjie besef hulle is nie welkom in die lafenis van die lowergroen boom se skadu nie.
Die takke kreun swaar onder vet, pers bessies vol belofte van sappige heerlikheid. Dis my hart-se-punt-kind se eerste kennismaking met moerbeie. Die gewone ondeundheid in sy gesiggie het plekgemaak vir verwondering.
Meer nog toe ek hom een laat eet. Hy knibbel-knibbel versigtig aan dié nuwigheid, die eerste druppels diep-pers skop dadelik nes om sy mondhoeke. En onmiddellik begin sy handjies gretig tussen die blare na nog soek.
Ouma onthou té laat dat moerbeie vlek; hardnékkig vlek.
Kort voor lank lyk sy handjies soos die dag hoe hy my olieverf ontdek het. Pleks van stofstrepe op sy wangetjies as hy dag my tuin in vaar, lê daar swartpers kolle op sy betowerde gesiggie.
Die voetjies, waarmee hy die moerbeie onder boom kneus en later sommer bespring dat die sop spat, is swartpers.
Ek verkyk my aan die seuntjie se sorgeloosheid. Sy uitbundigheid oor die natuur se poeding is aansteeklik. Ek stof vanmelewe se kind in my af en begin saamspeel.
Meteens is ek weer ’n klein dogtertjie in Pionierspark wat smiddae na skool kaalvoet die bospaadjie af hardloop na die vulstasie met sy reusemoerbeiboom. Aansluit by die ander buurtkinders wat vruggies pluk. Op die persbevelkte plaveisel na vet bessies soek wat afgeval het en deur die son warm gebak is. Húlle is die soetste.
Propvol geëet persvoet met dieselfde bospaadjie huiswaarts keer waar my ma met skottelgoedseep en skropborseltjie regstaan om die ergste skade ongedaan te probeer maak.
Oktober kán die mooiste, mooiste maand wees as grootmense net hul oë en harte oopmaak, besef ek toe ek saam met Brian-beer op die koel grasperk neerplak. Kyk hoe die son elke nou en dan deur die digte blaarsambreel breek en ons kom koggel.
“Ek dink die mense vier vir ewig in die hemel Oktobermaand soos hier!” seg die digter.
Daar’s nog baie hemel hier op aarde ook, besef ek en kyk dankbaar na die engeltjie hier langs my.
Huistoegaantyd vat ek ’n handvol moerbeie saam:
“Moerbuie in die voorhuis –
Moerbeie blou en rooi!
Moerbeie orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!
Dit is die maand Oktober,
die mooiste, mooiste maand!”
Met apologie aan C. Louis Leipoldt.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie