Moenie toekyk hoe jou taal uitsterf

[email protected]
Jeanette Diergaardt
Jeanette Diergaardt – Covid-19 lyk natuurlik soos my generasie se grootste pandemie. Ja, ek is ook siek en sat vir Covid-19, maar dis nie waaroor ek vandag kla nie. Vir generasies lank leef ons deur een groot pandemie; die uitsterf van tale.

Dis soos ’n stadige dood wat elke dag kulture wêreldwyd bekruip.

Selfs voor my tyd was daar sprake van dié wêreldwye katastrofe. Die presiese getalle kan ek nie uit my duim suig nie, maar een ding is seker, dit gebeur. Ek en jy moet net bietjie meer aandag daaraan skenk.

In Suider-Afrika in die Savannah word ’n taal as bedreig beskou wanneer minder as 20 000 mense dié taal praat. As ’n miljoen mense ’n taal praat, is jou taal blykbaar ook nie veilig nie. Lees David Crystal se What is Language Death. Die boek is ook aanlyn beskikbaar.

Die meeste van ons redeneer as iets ons nie direk beïnvloed nie of jy sien dit nie raak nie, dan bestaan dit nie. Dis soos om peekaboo te speel. Net omdat jy jou oë toemaak en nie iets of iemand sien nie, beteken nie die persoon of item bestaan nie.

Luister meer en let meer as gewoonlik op. Engels is ’n indringerbos wat stelselmatig sy mooi fluweelryke kleure versprei. Dit laat die toekoms helderder lyk as die eentonige kleure van ons eie pragtige en egte Namibiese droë bossies met hul pragtige kleurryke blommetjies wat altyd blom. Maar ook net vir dié wat dit wil raaksien.

Engels laat klink ons mos slim en maak die wêreld se deure vir ons oop. Baie wil van Afrika en sy probleme vlug. Saam met daardie probleme hardloop ons weg van kulture en tradisies. Ek neig ook om soms van Namibië en Afrika te ontvlug, maar geen taal is so lekker soos my moedertaal nie.

Geen son skyn so helder en brand so seer soos die Suidelike Halfrond se son nie.

Ek sal gebroke standaardafrikaans praat en so nou en dan my kombuistaal laat deurskemer. Maar dink jy ek worrie? Glad nie. Ek praat nog in my taal, ek vry in my taal en ek lag in my taal. Korreksie, ek skaterlag in my taal; met my mond wawyd oop en my kop agteroor. Die kombuistaal smaak die lekkerste. Ek gooi so nou en dan ook ’n vloekwoordjie in. Dit laat my beter voel. Ek aanvaar die mooi en die lelik van Afrikaans, maar ek verkies om die mooi raak te sien.

As jy my wil judge oor hoe ek praat, is dit ook reg. My taal is wie ek is en dit maak my gelukkig. En as jy ’n probleem het met té “hoogere” Afrikaans dan moet jy dit ook asseblief aanvaar.

’n Bakleiery oor wie ’n taal beter praat en oor hoe dit gedoen moet word, maak ons almal blind vir die einddoel. Dit is om seker te maak ons tale word nie een van die statistieke nie. Baklei vir jou taal, vestig jou aandag op jou taal en die kultuur wat daarmee gepaardgaan. Doen navorsing oor jou taal. Om stil te bly en niks te doen nie is die grootste onreg wat ons aan toekomstige generasies kan doen. Moenie die rede wees dat jou taal uitsterf nie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer