Moenie regeringsleiers beledig, su00ea Simataa
Moenie regeringsleiers beledig, su00ea Simataa

Moenie regeringsleiers beledig, sê Simataa

Die ministerie is bekommerd oor ’n vlaag neerhalende en beledigende boodskappe wat op sosialemediaplatforms versprei word.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die ministerie van inligting en kommunikasietegnolgie het Namibiërs gewaarsku om die land se leiers nie te beledig nie, maar sommige Namibiërs beskou dít as ’n dreigement.

"Die ministerie het met groot kommer ’n vlaag neerhalende en beledigende boodskappe (oudio, video en teks), gerig aan die staatshoof, kabinetslede en die hele regering waargeneem, wat tans op sosialemediaplatforms versprei word," het die minister, mnr. Stanley Simataa, Vrydag in ’n mediaverklaring gesê.

"Sulke neerhalende en beledigende taal gerig aan die staatshoof, kabinetslede en die hele regering is nie net teenstrydig met die Grondwet nie, maar ook teen ons kulturele waardes en norme as mense en as Afrikane."

Hy sê in ’n demokratiese staat soos Namibië is dit die norm vir burgers om hul menings te lug of die regering of leiers oor kwessies te kritiseer, maar op ’n konstruktiewe manier met taalgebruik wat die statuur pas van dié wat gekritiseer word.

"Die regering sal egter nie skroom om gebruik te maak van die bepalings van die wet nie," het hy gemaan.

Dié verklaring het sosialemediagebruikers weer laat gons en gemoedere het hoog geloop.

Sommige Namibiërs beskou dit as ’n dreigement en meen as leiers respek wil hê, moet hulle dit verdien.

"Beledigings word gemaak as kiesers vir hul politici vies is. Gekruide taal word gebruik (reg of verkeerd) as die kiesers reeds by die punt van keelvolheid kom. Miskien moet die ministers eers ’n bietjie mensekennis gaan opdoen voordat hulle in ’n parlement toegelaat word. Terloops, Simataa het nie vermaan nie . . . hy dreig (wat ’n teken van ’n desperate leier is) . . . so wie hou nou by die ‘demokratiese’ grondwet, en wie nie?" vra ’n leser op Republikein se Facebook-blad oor dié kwessie.

’n Ander leser sê die Grondwet beskerm die reg op vryheid van spraak.

“Voor ons weer sien, sit julle die internet af, soos in Zim om ons stemme stil te maak?! Ons mág praat! En kritiek lewer!"

STOP FOPNUUS

Die ministerie het ook bevestig die onlangse boodskap wat op WhatsApp versprei word oor die beweerde instelling van streng beheermaatreëls vir sosialemediagebruik is vals en moenie verder versprei word nie.

Dié boodskap is in die vorm van ’n skermgreep van ’n waarskuwing tydens ’n NBC-uitsending van ’n sogenaamde netwerkmoniteringstelsel wat deur die Namibiese regering ingestel word en deur ’n Italiaanse firma bedryf word.

Die boodskap beweer die regering het nuwe regulasies ingestel, wat mense se selfone en sosialemedia-aktiwiteite sal dophou en opneem.

Die ministerie se waarnemende sekretaris-generaal, me. Tjiuai Kaambo, het verlede week gesê hulle het geen nuwe regulasies in werking nie, en het ook nie ’n stelsel wat met lede van die publiek se selfone verbind is nie.

Kaambo het gesê die ministerie monitor nie burgers se oproepe of sosialemedia-aktiwiteite nie, en het bevestig dié WhatsApp-boodskap is fopnuus.

Die ministerie doen ’n beroep op die publiek om bedag te wees op sulke boodskappe, wat “deur mense geskep word wat vrees wil veroorsaak”.

Kaambo het benadruk die ministerie, wat as die regering se woordvoerder dien, sal verseker inligting word amptelik op alle kommunikasieplatforms aan die publiek oorgedra en vra die publiek om nie verdere fopnuus te versprei nie, omdat dit misleidend is.

Volgens Kaambo moet die publiek nie sosialemediaplatforms aanwend vir politieke aanvalle, diskriminasie, rassisme, seksisme of “enige dade wat Namibië se vrede en stabiliteit kan bedreig nie”.

“Ons het net een gedeelde erfenis, waaroor ons jaloers waak, en dit is Namibië. Kom ons speel nie met ons land se naam en beeld nie. Laat ons land te alle tye ons almal se skat bly,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-08-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer