Moeilike besluite wag op Nienaber
Rugby
Cobus Claassen – Bring goeie nuus oor die beskikbaarheid van senior Springbokke soos Willie le Roux, Handré Pollard, Siya Kolisi, Lood de Jager en Frans Malherbe.
Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, is hoopvol dat die mediese verslag oor verskeie van sy sleutelspelers ’n goeie tyding sal bring in die opbou tot Saterdag se eerste rugbytoets teen die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad.
Kolisi, Pollard, De Jager en Malherbe het Covid-19 opgedoen en verlede week in Johannesburg deurgebring.
Hulle sal met hul aankoms in Kaapstad benewens Covid-toetse ook ander mediese toetse moet slaag alvorens hulle sal mag oefen, óf vir die toetsspan oorweeg kan word.
Die heelagter Le Roux het verlede Woensdagaand ’n dyspier beseer in die Suid-Afrikaanse A-span se wedstryd teen die Leeus en sal dalk nie oorweeg kan word nie.
Dit is allermins ’n gewone week in die aanloop tot ’n toets.
Boonop het ’n teleurstellende SA A-span Saterdag ’n nederlaag van 14-17 teen die Bulle in Kaapstad gely.
Dié wedstryd sou Nienaber min antwoorde gegee het.
Die plan was dat Nienaber hou by die span en bloudruk waarmee die Bokke in 2019 die Wêreldbeker in Japan verower het.
Sy beplanning is egter die laaste ruk by die venster uit toe die Covid-19-pandemie hom in die Springbok-kamp kom tuis maak het en die tweede toets teen Georgië in die proses gekanselleer is.
Die verrassende nederlaag teen die Bulle sou boonop ’n paar individue se aspirasies skade berokken het.
Om alles te kroon, is daar in meer as een posisie nie ooglopende plaasvervangers nie.
Sou Le Roux nie kan speel nie, moet Nienaber besluit of Aphelele Fassi of Damian Willemse die laaste vesting gaan beman.
“Ek het vanoggend (Saterdag) met Willie gesels en hy het gesê hy voel goed. Ons moet mediese terugvoer kry oor al die spelers voor ons aan spankeuses kan dink.
“Aphelele is jonk en dit was sy tweede wedstryd wat hy vir ons gespeel het. Ons sou hom nie in die groep gehad het as ons nie gedink het hy is nie goed genoeg nie.
“Dit vat ’n tydjie om gewoond te raak aan hoe ons dinge in ons spanopset doen, maar hy is beslis baie talentvol en sal reg wees as ons op sy knoppie moet druk,” het Nienaber gesê.
Die vleuel Makazole Mapimpi het nie in een van die drie wedstryde (teen Georgië, die Leeus en die Bulle) gespeel nie, wat kan meebring dat Sbu Nkosi en Cheslin Kolbe die vleuels sal wees.
Met Pollard wat nie teen die Leeus of die Bulle kon speel nie, het Morné Steyn en Elton Jantjies die nr. 10-trui gedra.
Steyn was heel skaflik teen die Leeus, terwyl Jantjies Saterdag agter ’n agttal wat nie die Bulle kon oorheers nie, allesbehalwe oortuig het.
Nienaber moet ook tussen Kwagga Smith en Jasper Wiese besluit as ’n plaasvervanger vir die beseerde Duane Vermeulen.
Indien Kolisi, die Bok-kaptein, nie sy Covid-herstelproses betyds voltooi nie, kan Smith ook as oopkant-flank oorweeg word.
Eben Etzebeth en Franco Mostert behoort die slotpaar te wees, terwyl Bongi Mbonambi en Malcolm Marx die hakers in die 23-tal sal wees.
Hoewel Vincent Koch Saterdag ’n lid van die agttal was wat teen die Bulle gespeel het, is hy in die binnebaan om saam met Mbonambi en Steven Kitshoff in die voorry te begin.
Saterdag se toets begin om 18:00.
– Netwerk24
FOTO’s
Morné Steyn was die losskakel in Suid-Afrika A se wedstryd teen die Britse Leeus. Foto Getty Images
Kwagga Smith (links) was Saterdag woelig in die wedstryd teen die Bulle. FC du Plessis probeer hom stuit. Foto Gallo Images

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie