Möller-saak: Regter roskam beskuldigde

Verdagte sê probleem lê nie by hom

14 August 2019 | Howe
Elvira Hattingh

Die verhoor waarin vyf mans op onder meer klagte van moord en poging tot moord op Walvisbaai se Möller-gesin tereg staan, is tot eerskomende Dinsdag uitgestel.

Dít nadat een van die beskuldigdes se regsverteenwoordiger ’n tweede keer onttrek het.

Mnr. Panduleni Gotlieb (31), een van die beskuldigdes, se tweede regsverteenwoordiger, mnr. Titus Mbaeva, het onttrek omdat hy en sy kliënt glo nie ooreenstem oor hoe om met die saak voort te gaan nie.

Boonop wil Gotlieb glo ’n versoek om verdere inligting oor die klagte teen hom vir ’n tweede keer aan die staat rig.

Dit volg nadat sy eerste regsverteenwoordiger, mnr. Tuna Nhinda, ook onttrek het.

Regter Dinnah Usiku het Gotlieb ernstig gewaarsku sy sal nie toelaat dat hy die hof “frustreer” deur voortdurend van regsverteenwoordiger te verander nie.



‘GEREGTIGHEID ONTKEN’

“Ek glo jou medebe­skuldigdes wil met die verhoor voortgaan en die saak is vir lank reeds uitgestel. “Geregtigheid wat uitgestel word, is soos om geregtigheid te ontken.

“Boonop is jy nie die enigste party in die saak nie, getuies is na die hof ontbied en ’n klomp middele is vermors deur jou besluit om ter elfder ure nie met jou regsverteenwoordiger voort te gaan nie.

“Neem hierdie as ’n baie ernstige waarskuwing van my af,” het sy gesê.

Gotlieb het geantwoord die probleem lê nie by hom nie.

“Ek wil ’n verteenwoordiger hê wat met my saamstem en nie een wat my nie ’n regverdige verhoor sal gee nie,” het hy gesê.

Regter Usiku het gesê ongeag die omstandighede verwag sy van Gotlieb om sy sake in orde te kry.

Die hof sal Dinsdag om 09:00 hoor of Gotlieb daarin kon slaag om regsverteenwoordiging te kry.


VERHOOR SOU BEGIN

Die verhoor van die saak waarin die Möller-gesin op 16 Junie 2016 in hul huis op Walvisbaai oorval, aangerand en beroof is, sou vandag in die Windhoek Sentrale Gevangenis se hoërhof begin het.

Mnr. Hans-Jörg Möller is in die voorval geskiet en het later aan sy wonde beswyk.

Volgens die klagstaat het mnre. David Tashiya (30), David Shekundja, Elly Hinaivali, Malakia Shiweda en Gotlieb by die Möllers se huis ingebreek en geld en ander waardevolle items van Möller se vrou, Carol-Ann Sowden-Möller, geëis.

Hulle het haar glo met ’n pistool, messe, ’n bandhefboom en ’n skroewedraaier gedreig. Toe Hans-Jörg tot haar redding wou kom, is ’n skoot afgevuur wat hom in die maag getref het.

Die beskuldigdes het Carol-Ann aangerand en vasgebind voor hulle die huis geplunder het.

Hulle het met kontant en gesteelde items ter waarde van sowat N$174 000 op die vlug geslaan. Hans-Jörg het op 18 Junie in die hospitaal gesterf weens die beserings wat hy opgedoen het.

Die beskuldigdes is van onder meer moord, poging tot moord en same­swering tot huisbraak met die doel om te roof, of roof met verswarende omstandighede aangekla.

Soortgelyk

 

Net 20,6% water in damme oor

21 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Damme in Namibië het in totaal net 20,6% of 144,030 Mm³ (miljoen kubieke meter) water oor, vergeleke met dieselfde tyd verlede jaar...

Kiessaak misluk ure voor eerste kruisies

21 ure gelede | Politiek

Jana-Mari Smith - Enkele ure voordat die stembus vir Namibië se 2019-verkiesings in Japan as eerste van die buitelandse sendings sou open, is gister in...

Japan reg om eerste te stem

21 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Namibiërs wat tans in Japan is, kon sedert middernag die eerste mense word om aan vanjaar se presidensiële en Nasionale Vergadering(NV)-verkiesings deel...

Weer vir Woensdag 13 November

21 ure gelede | Weer

BINNELAND: Meestal mooi weer en baie tot bloedig warm in die Suide, andersins gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met 'n paar tot geïsoleerde...

Toerismebedryf bekommerd na nog ’n toeris sterf ...

21 ure gelede | Ongelukke

Ronelle Rademeyer - In ’n donker week vir toeristeveiligheid in Namibië is ’n 32-jarige Belgiese man Sondagaand dood toe die toerlorrie waarin ’n groep van...

SME Bank: Krediteure kan hul geld kry

21 ure gelede | Misdaad

Catherine Sasman – Die meester van die hoërhof het op 8 November toestemming gegee vir die eerste krediteure- en ledevergadering van die SME Bank, wat...

Volvo to use blockchain traceability of cobalt

21 ure gelede | Motors

Volvo Cars will become the first carmaker to implement global traceability of cobalt used in its batteries by applying blockchain technology. The announcement follows the...

VERKIESINGS 2019: ONDERWYS EN GESONDHEID

21 ure gelede | Politiek

In die reeks neem ons politieke partye se manifeste in oënskou wat sekere sleutelkwessies betref.ALL PEOPLE’S PARTY (APP)• Gratis onderwys van kleuterskool tot eerste tersiêre...

Eenheid teen geslagsgeweld kry hupstoot

21 ure gelede | Misdaad

Yolanda Nel - Wanneer ’n kind by die huis verkrag word, word dié kind vir 21 dae na ’n plek van veiligheid geneem en daarná...