Ministerie pak plasingspetalje
Vertraagde aansoeke en ouers wat by meer as twee plekke aansoek doen, is twee van die vernaamste kopsere.
Denver Kisting – Ofskoon 171 000 leerlinge reeds oraloor die land in gr. 1, 8 en 10 geplaas is, sal tenteklaskamers steeds vanjaar talle leerlinge se voorland wees.
Me. Sanet Steenkamp, die uitvoerende direkteur van onderwys, kuns en kultuur, het dít gisteroggend op Good Morning Namibia, die nasionale uitsaaier (NBC) se ontbytprogram, onthul.
In dié stadium is alle skole in die Khomasstreek reeds tot oorlopens toe vol, sê sy.
Maar die onderwysministerie gaan alles in die stryd werp om leerlinge te huisves, het Steenkamp onderneem.
Teen gister is 24 tenteklaskamers reeds in dié streek opgerig.
Die verwagting is dat nog 60 tente vir leerlinge in Khomas opgeslaan sal word, sê Steenkamp.
Vanweë die ruimtebeperkings in dié streek sal leerlinge steeds in twee groepe verdeel word, sê sy.
Dit beteken een groep sal soggens skool bywoon, terwyl dieselfde geriewe smiddae deur ’n ander groep gebruik sal word.
Dié situasie is nie ideaal nie, gee sy toe.
Steenkamp sê ’n aantal aanvullende klaskamers behoort teen die einde van die termyn in Khomas voltooi te wees, wat die druk behoort te verlig.
Die uitvoerende direkteur sê baie ouers doen nie betyds aansoek om ’n plek by ’n skool vir hul kinders nie.
In sommige gevalle rus ouers op hul louere, terwyl sommige ouers ter elfder ure hoor van ’n verplasing of ’n suksesvolle werksaansoek elders – wat dringende verhuising noodsaak.
Dikwels, sê Steenkamp, besluit ’n ouer om by meer as een skool om ’n plasing aansoek te doen.
Sodra hulle by een skool geholpe raak, verwittig hulle die ander skole nie dienooreenkomstig nie.
Steenkamp sê die onderwysministerie hoop om vanjaar hul kapitale begroting aan te wend om meer klaskamers te bou.
Maar, maan sy, indien dié fondse net vir die oprigting van klaskamers aangewend word, sal restourasie van bestaande geriewe nie voorkeur geniet nie.
Dít sal instandhouding opnuut aan die agterste speen laat suig, sê Steenkamp.
Sy sê hulle hoop om vanjaar meer nuwe onderwysers aan te stel.
Vir 2020 alleen benodig hulle 404 nuwe onderwysers, sê Steenkamp.
’n Ander bydraende faktor tot die jaarlikse plasingspetalje is die aantal leerlinge wat herhaal, sê sy.
Jaarliks is nagenoeg 21% van gr.1’s onsuksesvol, noem sy as voorbeeld.
Dit beteken diegene wat vir die eerste keer skool toe gaan, ding teen die herhalers om ’n plek in die laerskool mee.
Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur gaan vanjaar eksamenregistrasies aanlyn hanteer om die doeltreffendheid van ’n elektroniese stelsel op die proef te stel, sê Steenkamp.
Sou dit sinvol wees, sal die ministerie dit ook vir skoleplasings oorweeg, sê sy.
Hulle besef nie alle ouers het toegang tot die internet nie en tradisionele maniere sal steeds beskikbaar wees.
Steenkamp het leerlinge, ouers en onderwysers aangemoedig om optimaal van die 198 skooldae gebruik te maak. “Laat dit ’n jaar van impak wees,” sê sy.
Sou leerlinge nog nie by ’n skool geplaas wees nie, verpas hulle van dié aantal dae en moet dan op datum kom met die werk wat reeds behandel is, sê sy.
Vanjaar se akademiese jaar het 285 koshuisdae, het sy gesê.
Leerlinge keer vandag terug skool toe.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie