Minder belasting op landbougrond

Die minister van grondhervorming het in die parlement aangekondig grondbelasting is hersien en gaan verlaag word.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Namibiese Landbou-unie (NLU) is verheug oor die aankondiging dat die grond­belastingkoers hersien en afwaarts aangepas is, maar voel plaaswaardasies is steeds te hoog.

Mnr. Ryno van der Merwe, president van die NLU, het gister in reaksie op die minister van grondhervorming, mnr. Utoni Nujoma, se aankondiging hieroor gesê “die kommersiële landbousektor beywer hom reeds van 2012 af vir bekostigbare en regverdige grondwaardes”.

Nujoma het Woensdag in die Nasionale Vergadering (NV) gesê sy ­ministerie het die koers hersien. Indien die parlement dit goedkeur, sal ­plaas­like grondeienaars in kommersiële boerderygebiede voortaan 0,4% op die waarde van hul eerste plaas betaal, pleks van die 0,75% wat dit vroeër was.

Buitelanders wat grond in die land besit, sal 1,4% betaal – dus 0,35% minder as voorheen.

Die koers op die waarde van 'n grondeienaar se tweede en meer plase sal geleidelik met 0,25% toeneem, het die minister gesê. In die geval van 'n Namibiër met ses plase sal die volgende ses koerse geld: 0,4%; 0,65%; 0,9%; 1,15%; 1,4% en 1,65%.

'n Buitelandse grondeienaar sal 1% méér op elk van hierdie koerse betaal.

Van der Merwe sê die NLU het in sy voorleggings aan die ministerie oor die grondwaardasiekwessie voorgestel die koers word na 0,35% verlaag. “Ons is dus uiteraard verheug oor die afwaartse aanpassing tot 0,4%,” het hy gister by navraag gesê.

Volgens Nujoma het sy ministerie die impak van hoë grondbelasting op die volhoubaarheid van boerderye in die kort en lang termyn, asook op indiensneming op plase ondersoek.

“'n Hoë grondbelastingkoers sal meer geld vir die aankoop van grond inbring en die pas van hervorming versnel. Dit is egter nie in die lang termyn volhoubaar nie, aangesien 'n hoër koers tot hoër vlakke van wanbetaling sal lei en dus teenproduktief is,” het die minister gesê.

“Ons moet nie die gans wat die goue eiers lê met nievolhoubare belastings doodmaak nie,” sê Nujoma.

Die grondbelastingkoers is in Augustus 2004 laas hersien en deur die parlement goedgekeur.

Die verwagting is dat die regering N$80 miljoen per jaar uit die nuwe voorgestelde grondbelasting sal inwin, het hy gesê. Dit is dubbel soveel as wat die regering tans insamel.

Voorts meen Nujoma grondpryse word deur die hoër grondbelastingkoers beïnvloed en bring mee dat die regering meer moet betaal wanneer hy plase vir sy hervormingsprogram aankoop. Dit is aangesien grondeienaars die pryse van die plase wat hulle aanbied, verhoog om op te maak vir die hoë grondbelasting wat hulle moes betaal.

Van der Merwe meen die laer koers is een kwessie, maar dat die regulasies ingevolge waarvan grondwaardes bepaal word, steeds onaanvaarbaar is. Hy voel die model wat gebruik word, moet hersien word.

“Ons staan nog daarby dat dit tot onrealistiese waardes lei,” sê hy. Grondwaardasies het onder die nuwe regulasies met gemiddeld 300 tot 400% gestyg.

Die ander kwessie is dat die aantal grondeienaars wat belasting betaal, al minder word.

“Voorheenbenadeelde boere kan aansoek doen om afslag te kry op grondbelasting en dan betaal hulle net 10% van die aangeslaande bedrag. Soos wat meer en meer voorheenbenadeelde mense deur middel van die grondhervormingsprogram plase kry en aansoek doen vir afslag, raak die belastingbasis al kleiner,” sê Van der Merwe.

Die debat oor die voorgestelde verlaging sal op 26 September in die NV voortgesit word.

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer