Min toegang tot inligting
Jan Publiek se aandrang op inligting word gereeld bloot geïgnoreer of andersins afgekeur.
Augetto Graig
Gewone Namibiërs kry 80% van die tyd nie die inligting wat hulle by ministeries, regeringskantore, private instansies of selfs nieregeringsorganisasies vra nie.
Tot 60% van die tyd sal die mens op straat bloot geen reaksie kry as hy/sy by gevestigde organisasies inligting soek nie. Amper 80% van private maatskappye reageer nie op navrae nie, weerhou basiese inligting of het nie die inligting beskikbaar nie. Regulerende owerhede en staatsmaatskappye beskik dikwels nie oor basiese inligting oor hul eie bedrywe of insette nie, en sal 85% van die tyd navrae vir inligting bloot ignoreer.
Die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) het gister sy nuutste navorsing oor toegang tot inligting vir die gewone Namibiër, getitel “Access Denied”, in Windhoek met joernaliste gedeel. Die navorsers het doelbewus nie dié bekende instituut se naam gebruik toe verskeie ministeries, regeringsinstansies en private maatskappye, insluitend mynbou-instansies, vir basiese, onsensitiewe inligting genader is nie. Volgens die navorsingsvennoot van IPPR, mnr. Frederico Links, is die resultate van die navorsing 'n bron van groot kommer vir die toekomstige ontwikkeling van die land. Volgens hom kan nasionale en internasionale ontwikkelingsdoelwitte nie bereik word sonder toegang tot inligting nie, maar in Namibië is daar liewer 'n duidelike tekort aan deursigtigheid, aanspreeklikheid en toeganklikheid, sê hy.
“Namibië kruip weg agter 'n dekmantel van geheimhouding,” sê hy.
Links het met die voorstelling van die navorsing wat tussen Mei tot Julie vanjaar gedoen is, verskeie internasionale en streeksooreenkomste waarvan Namibië deel is, ontleed. Die ooreenkomste verplig die land om toegang tot inligting te bied ter wille van die ontwikkeling van sy mense. Nietemin wys die navorsing, wat 105 instansies getoets het, dat daar min erns is om Namibiërs ingelig te hou. Trouens, daar is duidelik wydverspreide probleme met rekordhouding, die stoor van inligting en die hou van argiewe, sê hy.
PRIVAAT SEKTOR
“Dit is nie net die regering nie, dit is die privaat sektor en verbasend ook maatskaplike organisasies wat skuldig is,” sê hy. Hy is ook omgekrap daaroor dat regulerende owerhede nie inligting beskikbaar wou maak nie. Van die land se 13 streekrade het net die Erongostreek inligting verskaf aan die navorsers, wat dit as gewone burgers aangevra het.
Privaat ondernemings was 'n bietjie meer oop met hul inligting, spesifiek die mynboumaatskappy. “Daar is baie duidelik 'n kultuur van geheimsinnigheid in die land en ook 'n kultuur van nie aan die publiek verantwoordbaar te wees nie,” sê hy.
By die geleentheid het die uitvoerende direkteur van die IPPR, mnr. Graham Hopwood, ook klem gelê op die verhouding tussen toegang tot inligting en die geveg teen korrupsie. “Namibië het 'n korrupsieprobleem,” het hy gesê en “ontwikkeling kan nie plaasvind waar daar korrupsie is nie.” Hy sê korrupsie floreer in 'n omgewing van geheimhouding. Vir hom is dit 'n skande dat twee jaar ná die inhuldiging van die huidige regering, die Nasionale Vergadering en ook die Nasionale Raad geen register het van hul lede se bates nie.
Ander groot tekorte sluit in geen openbare toegang tot die afbakeningsverslag van 2013 wat kiesafdelings en verkiesingsgrense uiteensit nie, sleuteldokumente rakende die nasionale begroting wat nie op die ministerie van finansies se webtuiste te vinde is nie, en die register van maatskappye wat nie elektronies beskikbaar is nie. Boonop moet mense betaal vir inligting oor eienaarskap van maatskappye.
Die wetsontwerp oor die toegang tot inligting sloer iewers in die wandelgange van die parlement en Hopwood is bekommerd dat senior regeringslui dalk teenstand sal bied teen dié nodige wetgewing.
Links meen die wetgewing word doelbewus vertraag weens die implikasies daarvan.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie