Min te kies voor nasionale tweestryd

Bergfietsry
Andrew Poolman
Andrew Poolman – ’n Goeie kans bestaan dat die hoogtepunt van komende Sondag se Nedbank nasionale bergfietskampioenskap met ’n opwindende naelbyteinde tussen Tristan de Lange en Alex Miller kan eindig.

Die nasionale titel wat Miller verlede jaar teen De Lange as sy sterkste uitdager gewen het, was op ’n ander roete as wat Sondag by Farm Windhoek in Kleine Kuppe die geval sal wees.

De Lange het laas Saterdag ’n oortuigende oorwinning behaal in die tweede byeenkoms van die Nedbank Rock & Rut-reeks, nadat hy voor die halfpadmerk weggebreek en sy voorsprong enduit behou het.

Dit was twee weke nadat Miller by die openingsgeleentheid in die reeks in ’n naelskraapse eindpoging die knoop deurgehaak het.

Die 23-jarige De Lange en Miller (19) is die twee aanspraakmakers om Namibië by volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio te verteenwoordig en die nasionale keurkomitee het gewis nie ’n maklike taak om tussen die twee te onderskei nie.

Na verneem word, sal ná Sondag minstens nog een latere wedren as kriteria vir die Olimpiese keuring gebruik moet word, waarin beide betrokke behoort te wees.

“Alex en Tristan is beide uitstekend op dreef en niemand kan met veiligheid ’n voorspelling waag wie gaan wen nie. Namibië is gelukkig om twee kandidate van hierdie gehalte te hê,” sê Hans du Toit, die nasionale afrigter.

Volgens Du Toit is dit vanweë die Covid-19-situasie nog onseker watter latere geleentheid as kriteria gebruik sal word, en of dit vanjaar of volgende jaar sal geskied.

Die nasionale kampioenskap Sondag se eerste wegspringgroep sal om 08:30 wees. Die elite vroue se tyd breek om 10:30 aan, voor die mans se hoofresies om 14:00.

• Op die padfiets het Miller Woensdag as wenner uit die stryd getree in Food Lovers Market se tydtoetsreeks.

Miller (29 minute 24.02) het byeenkoms 3 gewen deur minder as ’n sekonde vinniger as Drikus Coetzee (29:24.94) die eindstreep te bereik.

Ander wenners van vername kategorieë was Michelle Vorster (elite vroue), Hugo Hahn (junior mans), Ingram Cuff (subveteraanmans), Hans du Toit (veteraanmans), Louis Peens (meestersmans), Daniel Hahn (seuns o.16), Monique du Plessis (junior vroue), Nicola Fester (subveteraan vroue) en Anneke Steenkamp (veteraanvroue).

Kommentaar

Republikein 2025-08-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer