Miljoene der miljoene bespaar op medisyne
Miljoene der miljoene bespaar op medisyne

Miljoene der miljoene bespaar op medisyne

Verskaffers wat afleweringstye herhaaldelik verontagsaam, sal nie meer toegelaat word om te tender nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) gaan jaarliks tussen N$60 en N$100 miljoen spaar.

Dít deur mediese voorraad, wat toerusting en medisyne insluit, deur middel van gesamentlike verkrygingsmeganismes (PPM) van die Verenigde Nasies se Bevolkings- (UNFPA) en Kinderfonds (Unicef), die Wêreldfonds, asook die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsfonds (SADC) aan te koop.

Op die aankoop van entstowwe alleen is dit 'n besparing van byna N$50 miljoen, op voorbehoedmiddels sowat N$6 miljoen en op geselekteerde voorraad sowat N$40 miljoen.

Volgens die ministerie se uitvoerende direkteur, mnr. Ben Nangombe, is die internasionale verwysingspryse, wat gebruik word om dit met dié van die sentrale mediese store (CMS) te vergelyk, met 12% opgestoot om beraamde verskepings- en verwante logistieke koste in te sluit.

Nangombe sê die VN-agentskappe en ander verkrygingsentiteite wat by die aankope betrek word, neem nie aan regeringstenders deel nie, en daarom kan die ministerie slegs van hul dienste gebruik maak deur direk van die PPM's af aan te koop.

Hy het na die aankoop van ent­stowwe deur Unicef se PPM verwys, wat op 20 Desember verlede jaar gefinaliseer is en waarop die ministerie reeds N$14,6 miljoen gespaar het.

Op Hepatitis B-entstowwe vir kinders alleenlik was dit 'n besparing van 90%.

Volgens Nangombe sal die voorraad vir die volgende jaar in die land se behoeftes voorsien.

Nangombe het die vertraagde of totale gebrek aan aflewering deur sekere verskaffers, die afwesigheid van langtermynkontrakte asook hoë pryse tydens noodaankope uitgesonder as die grootste struikelblokke in die aankoop en verspreiding van voorraad.

Weens die beperkte drumpel vir aankope soos bepaal deur die wet op openbare verkryging kan daar nie genoeg voorraad aangekoop word nie.

Die verkrygingsproses is boonop uitgerek en traag, terwyl baie ver­skaffers die “nasie in die steek laat” weens vertraagde of 'n totale gebrek aan aflewerings.

Om dit hok te slaan, is onderhandelings met die Sentrale Verkrygingsraad (CPB) vir langtermynkontrakte onderweg.

Volgens Nangombe spaar die kontrakte geld deur weg te doen met noodaankope en verseker dit ­betroubare, geskeduleerde voorraad.

Die kontrakte sluit ook strafklousules en waarborge vir aflewering in, wat verantwoordbaarheid verseker.

Eenmalige en noodaankope het nie dié bepalings nie.

Daar sal streng teenoor verskaffers opgetree word wat nie by afleweringstye hou nie, terwyl “gewoonte-oortreders” volgens toepaslike wette ook nie meer tenders sal kan indien nie.

Amptenare verantwoordelik vir aankope in die ministerie gaan “streng gemonitor” word, en diensverskaffers wat die verwante ­prosesse “onbehoorlik beïnvloed” sal volgens Nangombe die gevolge dra.

Hy het verwys na medikasie vir hoë bloeddruk wat maande lank nie by staatsgeriewe beskikbaar was nie, wat uiteindelik ontvang is en landswyd versprei word.

Nangombe het erken daar is steeds verskaffers wat sukkel om die vereiste voorraad te lewer en dit is onder meer weens die tekort aan aktiewe bestanddele vir sekere medikasie op die internasionale mark.

Danksy die Wêreldfonds se tegniese ondersteuning word prosesse by die mediese store ook meer vaartbelyn gemaak.

Nangombe het verwys na mediese voorraad wat nie op die ­Namibiese lys vir noodmedikasie (Nemlist) verskyn nie, maar hoofsaaklik in verwysingshospitale gebruik word.

Omdat dit gespesialiseerde items is en nie op die lys verskyn nie, word dit nie deur die CMS in grootmaat aangekoop nie.

'n Voorraadopname is gemaak van wat nodig is en 'n tender sal eersdaags hiervoor uitgereik word.

Volgens Nangombe is byna die helfte van voorraad reeds afgelewer wat danksy 'n spesiale v­rystelling van die tesourie aangekoop is.

Die res sal van vandeesweek af na openbare gesondheidsgeriewe oraloor die land gestuur word.

 – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer