Michelle McLean: Ek was naïef

Voormalige Mej. Heelal getuig

10 October 2017 | Howe
Jacqueline Louw – “Nadat ek in 1992 as Mej. Namibië en Mej. Heelal gekroon is, het ek oorweldigende en wêreldwye lof, erkenning en publisiteit gekry wat my in staat gestel het om my bekendheid te gebruik om my kinderdroom om die kinders van Namibië te verryk, te verwesenlik. Dit was die agtergrond waarteen die MMCT in 1992 gestig is.”

Só lui die openingsparagraaf van Michelle McLean se getuieverklaring wat sy gister in die hoërhof in Windhoek voorgelees het in die hofstryd tussen die trustees van die Michelle McLean Kindertrust (MMCT) en sy voormalige direkteur.

Die beëindiging van mnr. Danie Botes, die voormalige geldinsamelaar en direkteur van die MMCT se dienste in September 2013, het daartoe gelei dat hy die trustees vir verlies aan inkomste asook die betaling van pensioenfondsbydraes gedagvaar het. Botes se aanvanklike eis teen die trustees het meer as N$19 miljoen beloop.

Hierdie eis is in Maart 2016 aangepas tot ’n totaal van nagenoeg N$14 miljoen wat insluit skadevergoeding van ongeveer N$10 miljoen, pensioenfondsbydraes van N$2 miljoen en ’n verdere N$2 miljoen van drie trustees in hul persoonlike hoedanighede.

Die basis van dié dispuut tussen die partye is die berekening van Botes se kommissie wat volgens hom onderhandel is op die bruto inkomste van die trust. Dit is egter die trustees se saak dat sy kommissie op die netto inkomste van die trust bereken moet word.

Die trustees voer op hulle beurt aan dat Botes homself ten bedrae van N$6,7 miljoen wederregtelik verryk het deur geld wat hom nie toegekom het nie, aan die trust te onttrek. ’n Verdere N$1 miljoen word geëis vir ’n mislukte transaksie waarin ’n versekeringsmaatskappy, Lawsure, gekoop is.

BOTES SE VERGOEDING
Botes se vergoeding is in ’n notule van ’n vergadering van die trust op 17 Oktober 2005 vervat.

Dit maak voorsiening dat Botes 20% van alle inkomste sou kry wat deur die MMCT ontvang word.

Een ding wat egter nie in die notule gemeld word nie, is of Botes se vergoeding op die netto of bruto inkomste van die trust bereken sou word nie.

McLean sê verder in haar getuieverklaring dat die sukses van die MMCT afhanklik was van haar vermoë om nasionale en internasionale publisiteit te genereer en ook die goeie sakebestuur van die trust.

Om hierdie rede het sy haarself asook die trust bevorder en ’n hoë openbare profiel gehandhaaf. “Die trust was afhanklik van my as die gesig daarvan,” het sy onder kruisondervraging deur die trust se regsverteenwoordiger, senior advokaat Jean Marais, getuig.

Die trust het soms by geleenthede van haar private lewe gebaat, soos haar huwelikseremonie, noem sy verder in haar verklaring.

VOLLE BEHEER
McLean het ook getuig dat trustees die volle beheer van die trust aan Botes oorgelaat het omdat die trust finansieel goed gevaar het en sy geen rede gehad het om aan sy bestuur te twyfel nie.

Sy het getuig dat Botes die notules van die trust se vergaderings aan haar gegee het en sy dit dan vlugtig deurgelees en onderteken het.

Oor ’n 2005-notule in verband met die berekening van Botes se kommissie het McLean getuig dat sy nie ooreengekom het dat dit op die bruto inkomste van die trust bereken sou word nie. Sy het verder bygevoeg dat dit geen sin maak nie.

Senior advokaat Michael Fitzgerald het dit aan McLean gestel dat sy suggereer Botes het inligting oor sy kommissie van die trustees weerhou, en verder aan haar uitgewys dat sy kommissie in die finansiële state van die trust vervat is. Hy het ook aan haar uitgewys dat sy die finansiële state onderteken het. McLean het gereageer dat sy vertrou het die ouditeure het die finansiële state gedoen en sy dit om daardie rede onderteken het.

McLean het ook onder kruisondervraging toegegee dat sy ’n notule van die trust onderteken het waarin genotuleer is dat die trust die besigheid van die versekeringsmaatskappy Lawsure gekoop het. McLean het aan die hof gesê dat sy nie sou toegestem het om “’n leë dop te koop” nie. McLean het die besigheid wat die trust met dié transaksie verkyr het, beskryf as “’n paar meubelstukke en ’n rekenaar waarvoor ons N$1 miljoen betaal het”.

McLean het in kruisondervraging gesê dat sy naïef en nalatig was toe sy van die trust se notules onderteken het en dat sy nou twyfel of dit die besprekings van die trustees en Botes korrek weergee.

Die verhoor duur vandag voort.

Soortgelyk

 

Naam van man bekend wat in ongeluk sterf

2 ure gelede | Ongelukke

Die 41-jarige man wat Donderdag in ’n ongeluk op die Outjo-Otavi-grondpad gesterf het, is as Smit de Wet Louw identifiseer. Die kop-teen-kop-botsing wat sy lewe...

Khomasstreek oor grondeienaarskap

14 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh - “Buitelanders se plase moet outomaties onteien word en boere moet tot 50% eienaarskap van hul plase aan plaaswerkers afstaan ten einde grondhervorming...

Windhoek 'in gróót moeilikheid'

14 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Terwyl die verbruiker voortaan tot 300% meer vir sekere dienste moet opdok, het die stadsvaders van die Windhoekse munisipaliteit (CoW) pas ’n...

Weer vir 20 Julie 2018

14 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en matig tot warm in die Zambezi-, Kavango- en oostelike streek. Elders sal dit sonnig en matig tot warm wees. Dit sal...

Reho se /Uirab ‘in die pad gesteek’

14 ure gelede | Plaaslik

Denver Kisting – Mnr. Christoph /Uirab, uitvoerende hoof van die Rehoboth-dorpsraad, het agt maande van sy termyn tuis deurgebring./Uirab, wie se laaste werksdag vandag is,...

Kalender 13 Julie

14 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Anin Namibia bied tans ’n uitstalling in die Omba-galery aan. Hierdie keer het hulle groepsborduurprojekte en maatskappye genooi om deel te...

Siba sprankel by ekspo

14 ure gelede | Kuns en vermaak

Eet, smul en knaag bly maar hoogtepunte in baie van ons se dag. Vir sommige is dit ’n uitdaging om kos te maak en ander...

Kortbroektreffers uit Rocco se pen

14 ure gelede | Kuns en vermaak

Die bekroonde en uiters begaafde pianis Rocco de Villiers is terug met ’n splinternuwe popalbum, wat nie net vir die eerste keer met ’n Afrikaanse...

Drie maande om misdaad nek om te draai

14 ure gelede | Polisie

Tanja Bause – Die hoof van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, het polisiebeamptes drie maande gegee om van misdaad in Windhoek ontslae te raak....