Metaalvervaardigers stig vereniging
Metaalvervaardigers stig vereniging

Metaalvervaardigers stig vereniging

Die nuwe vereniging van metaalvervaardiging het onder meer ten doel om pryse af te dwing ten einde die buitelandse mark te betree.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Namibiese Vereniging van Metaalvervaardiging (NAMF) is verlede Donderdag amp­telik by die Wispeco-hoofkantoor in Windhoek gestig.

By die geleentheid het die eerste voorsitter van die vereniging, mnr. Brian Christian, gesê 'n nuwe hoofstuk oor vervaardiging in Namibië het begin.

Volgens Christian verskaf plaaslike vervaardigers maar tussen 15 en 18% van die plaas­like aanvraag aan die mark. NAMF se doelwitte sluit onder meer in: Om 'n groter deel van die plaaslike mark te verkry, om tegniese koöperasie aan te moedig ten einde kapasiteit te ontwikkel, om gehalte te verbeter en pryse af te dwing ten einde die buitelandse mark te betree.

Volgens Christian is die metaalvervaardigingsektor in Namibië reeds uitgebrei, met 'n verskeidenheid produkte wat in die land gemaak word, onder meer plaashekke, dak­plate en vensterrame.

“Alles waarin 'n mens potensiaal sien vir plaaslike vervaardiging, word in die meeste gevalle reeds hier gemaak,” sê hy.

Lede het verlede week die vereniging se grondwet onderteken en moet binne 'n jaar die eerste algemene vergadering hou. Die lede is mnre. Festus Nuunyango (tesourier), Nico Goosen van Wispeco Namibië, Annoo Ndatipo, Robby Amandhila en Rudolph Himarua.

Volgens Christian sal die komitee dit ook beywer om sinergie tussen rolspelers in die sektor te ontwikkel, en 'n skakel wees na opleidingsinstansies om markgerigte opleiding te bevorder. Dit moet ook die verhouding tussen vervaardigers en verbruikers - veral die regering - versterk, sê hy.

Werkgeleenthede kan geskep word deur die uitbrei van metaalvervaardiging, sê Christian. “Dit verg een man om 'n kruiwa te verkoop, maar 12 om dit te vervaardig.”

Wat betref outomatisering en tegnologie, is Namibië in staat om ­deurentyd meer werk­geleenthede te kan skep, sê hy. “Daar is altyd 'n behoefte aan iemand om die masjiene te bedryf, te onderhou en te programmeer,” sê hy. “Werkver­skaffing is 'n gevolg van modernisering.”

Deur lede van die plaas­like bedryf vir samewerking byeen te bring, kan 'n groter bydrae tot groot infrastruktuurprojekte gelewer word, “baie meer as wat tans gedoen word,” sê hy.

“Die enigste manier om ons nywerheid uit te brei, is om die verstandhouding van verbruikers te verander en plaaslik aankope te bevorder. Vir ons om met die wêreld mee te ding, benodig ons meer geleenthede en meer vaardighede. Ons nywerheid word baie onderskat,” sê hy, en voeg by baie mense besef nie dat metaalvervaar­diging elke ander sektor in die ekonomie ondersteun nie. “Groei (van die ekonomie) vereis groei van die vervaardigingsektor.”

Kommentaar

Republikein 2025-07-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer