Met 'n breu00eb glimlag kom jy baie ver
Met 'n breu00eb glimlag kom jy baie ver

Met 'n breë glimlag kom jy baie ver

Francoise Steynberg
Vriendelikheid kos niks, en met 'n mooi glimlag verower jy baie harte.

Ek het verlede week vir die eerste keer in baie jare weer 'n Noorderlig-trip gedoen en op die platteland het ek net weer eens besef hoe vriendelik ons Namibiërs is. Almal kry op die oomblik swaar weens die knellende droogte en die ekonomiese depressie, maar tog is daar tussen die bekommerde fronse oral vriendelike glimlagte.

By elke plek op elke Noordedorp waar ons ingestap het, is ons met ope arms hartlik verwelkom. Dit was wonderlik om ou vriende weer te sien en nuwe vriende te maak.

Ek hou nie van klakouse en grompotte nie, nog minder van mense wat nie groet nie, en van hulle is daar min op die platteland.

By die 112 jaar oue Minen Hotel op Tsumeb stap ek die trappe op en word met die hand gegroet deur 'n ou, bekende gesig van 'n kelner wat van oor tot oor glimlag.

Toe kom groet nog 'n kelner en nóg een my met breë glimlagte – al ses kelners wat al dekades lank by die hotel werk.

"Juffrou, ons onthou vir jou van Republikein. Jy het altyd saam met Jan Poolman hier gekom," onthou hulle.

Ek kry 'n knop in my keel, want ek mis vir wyle Jan Poolman saam met wie ek my heel eerste Noorderlig tien jaar gelede, en baie daarná, gedoen het.

Die ontvangsdame wil weet of ek 'n storie kan skryf oor hul netbalwedstryd die naweek.

Die kelners vertel trots die hotel het nóg 'n ster bygekry en gesels oor die reën en die swak ekonomie.

"Ons moet net bly hoop," sê hulle.

Die hotel se bestuurder, Michael, spog breëbors oor sy hardwerkende en vriendelike kelners en personeel.

"Jy kan 'n pragtige vyfsterhotel hê, maar as jy nie goeie diens lewer nie, kan jy maar jou deure toemaak."

Namibië vier vandeesweek sy 29ste Onafhanklikheidsdag en ek wens ons regering wil besef watter wonderlike land en mense ons het en ons landsburgers meer waardeer.

Met so 'n reis deur die platteland sien jy eerstehands die droogte, swaarkry en armoede. Jy sien hoe hard mense werk.

Namibiërs is soos vriendelike en lojale werkers wat vir 'n onbeskofte baas (die politici) werk, wat sy werkers nie groet nie, nooit dankie sê nie en hul regte nie in ag neem nie.

Die Namibiese Huis kan so mooi soos 'n vyfsterhotel wees, maar as die regering se dienslewering swak is, kan hy maar sy deure sluit.

Politici moet besef vriendelike en lojale Namibiërs is ná 29 jaar moeg vir swoeg en swaarkry.

Vriendelikheid bring jou ver en dwing respek en vertroue af, maar leë beloftes en vals glimlagte laat hoop verdwyn.

Kommentaar

Republikein 2026-06-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer