Mesmoordenaar van Okombahe is skuldig
Hof bevind dat hy direkte bedoeling gehad het om haar dood te maak.
Jacqueline Louw
Trougoth Nanub (30) is verlede Donderdag deur regter Alfred Siboleka skuldig bevind aan die moord op me. Cheroline Dausas (25), sy voormalige vriendin.
Nanub het tydens die verhoor in die hoërhof in Windhoek deurgaans volgehou hy is onskuldig.
Dausas is die aand van 9 Oktober 2012 deur Nanub aangeval waar sy en haar nuwe kêrel na haar ma se huis gestap het.
Nanub het die paartjie gesien en vir Dausas gevra om hom na 'n rivierbedding te vergesel omdat hy met haar wou gesels. Sy het dit gedoen en hy het haar begin slaan. Dausas het weggehardloop, maar is deur Nanub agternagesit en drie keer met 'n mes gesteek. Hy het gevlug en Dausas is na 'n nabygeleë kliniek geneem waar sy aan haar wonde beswyk het.
Speuradjudantoffisier Simon Nghiteeka, wat die saak ondersoek het, het in die hof getuig hy het Dausas dood in 'n kliniek in Okombahe aangetref na hy die aand van die voorval na die dorpie ontbied is.
Hy het later vir Nanub by die Okombahe-polisiekantoor gevind waar hy hom van sy regte ingelig en ondervra het. Volgens Nghiteeka het Nanub gesê Dausas was steeds sy meisie. Hy het die plek waar hy die mes waarmee Dausas aangeval is in 'n vlak gat begrawe het, aan die polisie uitgewys. Die mes was met bloed bevlek.
Me. Charlotte Khachus, 'n verpleegster wat aan diens was toe die sterwende Dausas na die kliniek gebring is, het getuig dat sy gesê het: “Striker (Nanub se bynaam) het my gesteek”. Hierna het sy gesterf.
Siboleka het in sy uitspraak gesê die staat het bo redelike twyfel bewys dat Nanub Dausas se dood veroorsaak het.
“Deur haar in die sensitiewe areas van die nek en borskas te steek het hy die direkte bedoeling gehad om haar dood te maak,” lui die uitspraak verder.
Adjunk-aanklaer-generaal Jackson Kuutondokwa het die staat verteenwoordig en mnr. Milton Engelbrecht het vir die beskuldigde opgetree.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie