Mesgeweld van noord tot suid
Mesgeweld van noord tot suid

Mesgeweld van noord tot suid

Verskeie sake van moord en ­poging tot moord is ná die naweek bygevoeg.
Augetto Graig
Augetto Graig



'n Moordsaak word op Kaguni in die Kavango-Wesstreek ondersoek nadat 'n 14-jarige seun na bewering Vrydag omstreeks middernag 'n 15-jarige skoolmaat met 'n tradisionele mes in die bors gesteek het.

In die polisie se misdaadverslag vir die tydperk tot Sondag word beweer dat die twee seuns vriende was, onder­skeidelik in graad 5 en graad 8 by ­dieselfde skool. Die ouer seun is op pad hospitaal toe dood en die oorledene se familie is van sy dood in kennis gestel, sê die polisie.

Die graad 5-seun kan weens sy ouder­dom met 'n waarskuwing ­vrygelaat word ná evaluering deur maatskaplike werkers, terwyl die mes as bewysstuk gehou word en die polisie­ondersoek voortduur.

• Tussen 01:00 en 02:00 Saterdag is 'n messteekvoorval in Windhoek se Havana-nedersetting aangemeld. Dit word beweer dat 'n 22-jarige man ná 'n stryery oor N$50 'n 23-jarige man met 'n mes gesteek het. Die slagoffer is later in die Katutura-staatshospitaal dood.

Die voorval is eers ná sy dood aangemeld, maar die verdagte het homself by die Wanaheda-polisiekantoor ­oorgegee. Die oorledene se familie is in kennis gestel.

• Nog 'n moord het Sondag omstreeks 01:27 by die Ubib-reservaat naby ­Karasburg plaasgevind. ­Weereens word 'n stryery oor N$50 uitgewys as voorloper tot 'n 24-jarige man wat aan die regterkant van sy nek met 'n ­onbekende voorwerp doodgesteek is.

Die verdagte het aanvanklik van die toneel gevlug en met die ­rivierbedding langs ontsnap, maar is later in ­hegtenis geneem. Die oorlede se familie is in kennis gestel terwyl die polisie­ondersoek voortduur.

• 'n Poging tot moord is Saterdag op Groot Aub aangemeld, tesame met 'n klagte van oortreding van die wet op vuurwapens en ammunisie. Dit word beweer dat tussen 08:00 en 09:00 die verdagte doelbewus met 'n onwettige vuurwapen sy 39-jarige manlike vriend ná 'n rusie in die maag geskiet het. Die verdagte het die vuurwapen daarna versteek en gevlug, terwyl die slagoffer by die Katutura-staatshospitaal behandel word. Die polisieondersoek duur voort.

• Saterdagmiddag is nog 'n poging tot moord by Freedom Land in ­Wanaheda aangemeld. Na bewering het 'n 34-jarige vrou haar niggie (24) van 'n verhouding met haar man beskuldig, die meisie met brandspiritus gegooi en aan die brand gesteek.

Die slagoffer het ernstige brandwonde aan haar gesig, bene en bolyf opgedoen en word by die Katutura-staatshospitaal behandel. Die verdagte is in hegte­nis geneem. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer