Mesaanval helder oordag in middestad
Tanja Bause
Twee mans het twee vroue en 'n man Saterdag om 12:00 in Dr. AB Maystraat in Windhoek glo met messe aangeval.
Twee van die slagoffers is Duitse burgers.
Die aanvallers het die man na bewering in die arm gesteek en volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag is die een vrou se ringvinger beseer toe die aanvallers haar ring probeer afhaal het.
Die verdagtes het met die slagoffers se voertuig, een selfoon, 'n grys pak klere en twee sakke ter waarde van N$100 000 op die vlug geslaan.
Die voertuig en dokumente is later langs die westelike verbypad gevind. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Me. Hambeleleni Absalom is Sondag om 21:30 na wat verneem word deur 'n man, met wie sy glo in 'n verhouding was, met 'n panga in die Okashopashopa-nedersetting in die Etayi-kiesafdeling doodgeslaan.
Die man het glo ook 'n 72-jarige vrou met 'n panga geslaan en sy is in 'n ernstige toestand in die Oshakati-staatshospitaal opgeneem.
Die man het homself by die Omungwelume-polisiekantoor aan die polisie oorhandig en is in hegtenis geneem.
Mnr. Selestinus Kawalu (34) se vriendin (37) het hom glo Vrydag om 22:30 in die //Ereres- informele nedersetting by Keetmanshoop met 'n kombuismes in die bors gesteek.
Hy het op die toneel gesterf en die vrou is in hegtenis geneem.
Saterdag om 22:40 is mnr. Henry //Goagoseb (22) naby die Hero's-kroeg in Mondesa op Swakopmund met 'n mes doodgesteek.
//Goagoseb en 'n vriend was glo op pad na die kroeg toe hulle verby twee mans loop wat met 'n bottel wyn op die sypaadjie gesit het.
//Goagoseb en sy vriend het die mans glo gevra of hulle van die wyn kan kry.
Die eienaar van die wyn het glo geweier en 'n mes uitgepluk. Die oorledene het die wynbottel toe na bewering gegryp en weggehardloop.
In die proses is hy met die mes gesteek.
Sy vriend het glo ook weggehardloop, maar in 'n ander rigting.
Hy het na wat verneem word later teruggekeer en vir //Goagoseb gaan soek.
Hy is meegedeel sy vriend is na die hospitaal geneem, waar hy gesterf het.
Niemand is in hegtenis geneem nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie