Mense verskil
Mense verskil

Mense verskil

[email protected]
Leandrea Louw
Leandrea Louw – Jy lees nou seker die opskrif en dink 'baie dankie Captain Obvious'; dit weet ons.

'n Geruime tydjie terug het ek en twee van my kollegas 'n draai gaan maak by die munisipale ashoop op Walvisbaai, waar omtrent 30 mense permanent bly. Ons wou gaan uitvind hoe Covid-19 hul geaffekteer het.

Ons begin gesels toe met een van die ouens daar, ZulaBoy, wat ons oorreed om van sy vetplantjies en sand te koop. Hy vertel ons toe hulle weet van corona en vertel ons oor hul eie unieke manier waar hul 'zula to survive'.

Met die terugry, sê ek vir my kollegas, hoe hartseer is dit net nie om op 'n ashoop te bly nie? Ek dink toe terug aan my warm bed, hoe ek lewe. Maar my kollega sê vir my, dis hul leefwyse waaraan hulle gewoond is, dit is hoe hul lewe.

En dit het my laat dink.

Vroeg verlede week was ek in Spitzkoppe en Tubusis waar ek skole besoek het. Die mense daar lewe so eenvoudig en ek het amper verlore geraak in die mooi en rustigheid van die twee plekke.

Die waarnemende skoolhoof op Tubusis vertel my toe dat hulle nie lopende water het nie, en maak gebruik van tenkwaens wat uit Karibib water aanry. Dit is reeds staande gebruik as gevolg van die droogte in die omgewing.

Maar wat ek oplet is die manier hoe sy dit sê, want vir my klink dit ontstellend om nie op 'n betroubare toevoer van lopende water te kan staatmaak nie, maar vir hulle is dit nou al deel van hul leefwyse.

'n Ander onderwyser sê toe ook vir my, as mens hierdie kant toe kom reis, wys dit ons maar net hoe dankbaar ons moet wees.

Ek besef toe maar net weer, dit is die mense se leefwyse, dit is hoe hul lewe en vir hulself sorg.

Afgesien van die ooglopende verskille tussen ons as mens – man, vrou, bruin, geel, wit – verskil ons op ander maniere ook.

Vir 'n lang tyd het ek gesukkel met die feit dat daar mense is wat anderste dink en voel as ek. Vir my was dit nog altyd jou beste vriend, of jou man of vrou moet iemand wees met wie jy kan 'vibe' oor dieselfde tipe dinge.

Maar ons verskil, ons het verskillende menings oor goed, ons voel sterker oor sekere goed as ander dinge, ons het verskillende maniere hoe ons dinge doen, en dit is heeltemal oukei.

Ons kan soveel leer van mekaar. Die mense van Spitzkoppe en Tubusis het my net kom wys, hoe eenvoudig 'n mens eintlik kan lewe. Zulaboy het weer vir my kom wys dat daar altyd 'n manier is om te oorleef, maak nie saak hoe sleg dinge rondom jou is nie.

Ons bevind ons in 'n baie onsekere tyd. Dit lyk nie nou asof dinge binnekort enigsins beter gaan raak nie, maar kom ons omhels die veranderinge en ons sal definitief sterker hieruit kom.

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer