Mense is geensins maklik nie
Mense is geensins maklik nie

Mense is geensins maklik nie

[email protected]
Sanet de Waal
Augetto Graig – Mense is nie maklik nie. Nee, mense is moeilik. Hulle is moeilik om te verstaan, moeilik om te verdra en moeilik om mee saam te leef. Mense is vol foute en hulle sal jou baie kere teleurstel. Hulle sal jou verraai en misbruik. Hulle sal jou hart breek.

Jy kan nie mense vertrou nie. Jy kan nie op mense staatmaak nie. Jy kan skaars glo wat hulle sê en wát hulle doen, sal jou verras en verstom.
Daar is niks op aarde so gemeen soos mense nie. Niks vernietig sonder ’n gewete soos mense nie. In die hele skepping kom niks naby aan mense se vermoë om jou geloof te beproef nie.

Tog is mense vir ons almal noodsaaklik. Ons kan nie sonder ander mense oor die weg kom nie. Ons moet iemand liefhê, iemand om mee te praat, mee te stry, mee te lag, mee te huil. Ons is nie gemaak om sonder die aanraking van ons medemens te bestaan nie. Mense is ’n verslawing wat nie oorkom kan word nie.

Hoe gemaak? In die land van die brawes moet mens maar net braaf wees. Hou moed en durf mense aan. Maak jou hart vas en neem die sprong, al is die val hoe seer. Raak verlief. Maak vriende. Kry kinders en omhels jou familie. Raak deel van jou gemeenskap en word deel van die samelewing.

Ek dink die geheim is om eers ’n paadjie met jouself te stap. Leer ken jouself. Wees eerlik oor jou eie tekortkominge. Moenie dink jy is nie skuldig nie. Jy is tog maar ook net mens. Die waarheid oor jouself kan jou in staat stel om die waarheid oor ander raak te sien, te aanvaar, selfs lief te hê. Niks in die skepping is perfek nie. Nie jy nie, en ook nie ek nie.

Mense sal nooit regkom nie, ten minste nie voor ek en jy regkom nie. Aangesien ek geen beheer oor jou lewe het nie, en jy ook nie oor myne nie, sal dit als afhang van hoe ver ons elk ons eie lewe kan regruk. Voor enige probleem opgelos kan word, moet dit bepaal word. Daarna moet die probleem getakel word.

Ons moet elkeen stappe doen om onsself te verbeter. Ons moet regkom, vir ons eie onthalwe en ook vir ons medemens. Ons is self die mense wat nie maklik is nie, maar ons is ook die mense wat die moeilikheid kan oorbrug. Ons kan mekaar help om te verbeter, as dié wat hulp nodig het, gewillig is om hulp te soek en te aanvaar.

Kom ons soek hulp en kom ons help mekaar. So kan ons miskien die lewe vir mekaar ’n bietjie vergemaklik; ’n bietjie meer gesellig maak, meer behulpsaam, vriendeliker, meer bedagsaam, meer liefdevol. So sal ons lewens verbeter en miskien sal ons almal kan onthou hoe dit voel om werklik mens te wees.
Mense is nie maklik nie, maar ons is almal die moeite werd.

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer