Melk vloei vir renosterwesies

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Skenkings vir melk vir twee renosterwesies stroom steeds in.

Volgens mnr. Jaco Muller van van die private renosterbewaringsorganisasie, Help our Rhinos Now Namibia (Horn.nam), gaan dit baie goed met die witrenosterkalfie wat verlede week wees gelaat is nadat haar ma weens haar ernstige beserings van 'n stropingsaanval beswyk het.

Die vyf maande oue verskalfie, gedoop Elfie, is 'n handvol en verknog aan haar aanneemma, die sorgsame en bekwame veeartsverpleegster me. Juliette Erdtsieck, wat 24 uur per dag aan die wesie se sy is.

"Sy slaap by die kalfie en as sy vir haar gaan melk haal, dan sit die wesie omtrent 'n keel op," vertel Muller wat verlede week gaan kyk het hoe dit met Elfie by 'n veilige hawe gaan.

"Ons het die verpleegster gaan help en haar morele ondersteuning gaan gee dat sy darem net 'n blaaskans kan kry.

"Die ergste stres van die kalfie is verby en sy begin al speel. Sy het al in 'n modderbad gespeel," sê Muller.

Volgens hom is teen Saterdag al finansiële bydraes van sowat N$40 000 ontvang asook 5 900 liter melk vir die witrenosterversie, asook die swartrenosterbulletjie, Chobe (ook vyf maande), wat ook 'n paar maande gelede wees gelaat is nadat sy ma gestroop is.

"Elfie en Chobe sal binnekort aan mekaar voorgestel word sodat hulle maats kan wees," sê Muller.

Dit kos sowat N$173 000 om een kalfie tot op 15 maande van vetvrye langlewemelk te voorsien.

Die organisasie bedank al die individue (van wie vele anoniem) en maatskappye wat ook die naweek skenkings gemaak het, naamlik M. Byrn, Ouma Gwen, Yvonne Muller, R. Wise, Astrid H., Africa Commercial Vehicles, Namvic Tours, Krokkernoster, Lori Ink & Assecories CC en Kalahari Car Hire.

Die publiek is welkom om vetvrye langlewemelk te skenk of 'n finansiële bydrae te lewer by HoRN.nam, First National Bank se Otjiwarongo-tak met takkode 280 673 en rekeningnommer 622 518 113 55. Vir verdere navrae, stuur 'n e-pos na [email protected].

Vier vermeende renosterstropers het verlede Dinsdag in die landdroshof op Okahandja verskyn en is borgtog geweier.

Die Namibiërs mnre. Paulus Uuwanga (23), Paulus Paulus Moses (45), Sadrak Pendapala (23) en Nangolo Jonas (47) verskyn weer op 28 Februarie 2018 in die hof.

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer